In gemeenskappe waar noodsaaklike sanitêre produkte vir meisies ‘n “luuksheid” kan wees, poog ‘n groep Kylemore-inwoners om seker te maak geen meisie mis skool as gevolg van ‘n tekort nie.
Die motor-entoesiasteklub Performance Den is ‘n groep uiteenlopende, familie-georiënteerde vriende van die dorpie en het onlangs bymekaargekom met die idee om meer in hul alma mater en gemeenskap te belê.
Robin Jansen van Performance Den verduidelik: “Ons is op soveel maniere geseën – natuurlik sowel as geestelik – en het gevoel ons moet iets aan die gemeenskap teruggee aangesien ‘n groot behoefte bestaan om minderbevoorregtes te ondersteun.”
LEES OOK: Run4Wings: Cloetesville se Keith Present draf weer om meisies in skool te hou

Mis skooldae
Volgens Devon Combrinck, die hoof van P.C. Petersen Primêr, is toegang tot sanitêre produkte ‘n uitdaging vir sommige meisies.
“Baie van ons leerders kom uit huishoudings waar finansiële uitdagings, onbestendige gesinne, armoede, dwelm- en alkoholverslawing dit moeilik maak om sanitêre en ander higiënse produkte te bekostig. Vir baie van ons is hierdie produkte ‘n noodsaaklikheid waar dit in die meeste meisies se lewe ‘n luuksheid is,” sê Combrinck.
“Baie van die huishoudings is op survival mode en probeer kos op die tafel sit voordat hulle aan hierdie produkte dink. Die behoefte lei soms daartoe dat meisies skool misloop of ongemak en onsekerheid tydens hul skooldag ervaar.”
Vir die groep van Performance Den is dit ook belangrik om die opvoeding en ondersteuning rakende menstruasie te skep.
Jansen sê die hoop is hul gemeenskapswerk sal ander plaaslikes inspireer om te help om minderbevoorregte inwoners met basiese behoeftes te ondersteun.
“Indien lede van die gemeenskap graag wil help, is hulle meer as welkom om Performance Den te kontak. Ons kan dan toekomstige hulp bespreek, asook enige tekortkominge en behoeftes in die gemeenskap. Dit kan enigiets insluit, soos verfwerk, versiering, persoonlikehigiëneprodukte, kos en ander noodsaaklikhede.”
LEES OOK: Ál meer meisies met sanitêre skenkings gehelp

Ondersteuning verwelkom
Volhoubare ondersteuning aan die skool kan met behulp van inwoners, ondernemings, gemeenskapsorganisasies en alumni beteken behoeftes onder die leerders – skryfbehoeftes, skool-klere, sporttoerusting en leesmateriaal – kan aangevul word.
Combrinck meen gemeenskapsbetrokkenheid by inisiatiewe kan ‘n betekenisvolle verskil in die lewe van leerders, hul skool en die gemeenskap maak.
“In Kylemore moet baie ouersessies en opleiding gedoen word sodat ouers hul rol in hul kinders se lewe, die skool en die gemeenskap kan verstaan en om te help bou aan ‘n goeie huishouding, ondersteuningsnetwerke en om meer verantwoordelikheid te neem vir hul kinders se opvoeding, groei en waardes,” sê hy.
Combrinck voeg by organisasies soos Community Keepers doen reeds goeie werk in die skoolgemeenskap en help om higiëniese produkte te versamel.
“Dit help ook om goeie verhoudings te bou, die meisies selfvertroue te gee en die gevoel van ander gee om vir hul behoeftes. Dit kan motivering wees vir ‘n meisie om meer te doen, hard te werk en ‘n sukses van haar skoolloopbaan te maak. Enigiets volhoubaar lei tot groot sukses,” sê hy.
Elke pakkie bevat sanitêre doekies en ‘n paar bederfies vir die meisies. Die groep bedank Arts Spitbraai, J and Z accessories, Skytech Branding & Promotions, Logan Jooste Photography en al die individue wat tot die skenking bygedra het.
- Enigeen wat betrokke wil raak by die gemeenskapswerk kan Jansen by 083 229 0248 kontak.






You must be logged in to post a comment.