Die Cloetesviller Keith Present vat vanjaar weer die pad om sanitêre doekies vir Vrouemaand in te samel.
Present is lid van die Cloetesville-sokkerklub se uitvoerende span en het verlede jaar 129 km van Stellenbosch tot Robertson en terug afgelê vir die Run4Wings-insameling.
“Dit was grootliks die sukses van verlede jaar se Run4Wings wat my inspireer het om weer die projek aan te pak,” sê Present.
Die 34-jarige langasem sal op Maandag 24 Augustus weer die pad vat – hierdie keer na George en terug. Hy sal op Sondag 30 Augustus in die Eikestad aankom.
LEES OOK: Cloetesviller lê strawwe 129 km af vir vrouehigiëne

Dis g’n grap
Volgens Relston Lakay, die voorsitter van die Cloetesville-sokkerklub, sluit Present se jaarlikse tog in by die klub se strewe om meer as net sokker aan die gemeenskap te bied.
“Hierdie is Keith se projek en ons as klub sluit net daarby aan – hy moet al die krediet hiervoor kry. Ons is baie bewus van ons sosiale verantwoordelikheid in die gemeenskap en dit is een van die pilare waarop ons klub gevestig is. Aanvanklik het ons gedink Run4Wings is ‘n grap, maar Keith het dit ‘n werklikheid gemaak wat trefkrag vir meisies in skole gehad het,” sê Lakay.
Present het drie jaar gelede die projek begin. Verlede jaar was die eerste keer wat hy besluit het om ‘n wedloop aan te pak.
Die 2025-aflewering was só suksesvol dat Present en die klub sanitêre doekies aan 11 skole kon skenk.
Lang voorbereiding
“Ek het van ‘n pa gehoor wat een dag sy werk moes verlaat omdat sy dogter onverwags haar maandstonde by die skool gekry het. Die skool het nie sanitêre doekies vir haar gehad nie. Dit het veroorsaak dat haar pa ‘n halwe dag van werk moes verloor en sy, as ‘n gr.11-leerder, ‘n halwe dag van skool verloor het. Gevalle soos hierdie maak my net meer vasberade om my deel te doen sodat geen meisies skool moet mis as gevolg van ‘n gebrek aan die nodige higiëneprodukte nie,” sê Present.
Present het reeds in Januarie met voorbereiding vir sy tog begin.
Vandeesmaand het hy sy stamina op die proef gestel en onlangs van Stellenbosch na Kuilsrivier en terug gehardloop. Die verste wat hy tot dusver afgelê het was 65 km.
“My kop is in die regte plek en dit is deel van die uitdaging. Vir die afgelope drie maande was my oefening spesifiek vir die tog. Indien ek gereeld stop, ‘n piesang en ‘n broodrolletjie kan eet, is ek dan weer gereed vir die langpad. Mense lag wanneer hulle hoor ek eet net ‘n piesang en rolletjie, saam met my water natuurlik, maar hulle verstaan nie die voedingswaarde van dié kombinasie nie – dit werk vir my.”
Ondersteuning nodig
Present pak die pad na George saam met Colin Roberts aan. Lakay en nog ‘n lid van die sokkerklub sal saam as die drawwers se ondersteuningspan reis.
Die groep se eerste stop sal in Caledon wees. Dan volg Swellendam en Riversdal, gevolg deur die laaste oorslaap in Mosselbaai voor die groep in George aankom.
Lakay en Present bedank al hul borge wat tot dusver die projek ‘n sukses gemaak het. Present sal vir die tweede jaar in Joma-oefenklere sy tog aanpak.
Borgskappe is ook ontvang van Point S. Kuilsrivier, die plaaslike tak van Wellness Warehouse, KwikSpar Stone Square Welgevonden en SuperSpar Grabouw, wat ook afsetpunte vir skenkings is.
Skakel Lakay by 074 406 7625 om tot die ondersteuningspan se koste by te dra.
LEES OOK: Cloetesville-drawwer vat die pad vir vroue-higiëne





You must be logged in to post a comment.