Vir die res van die wêreld was hy ‘n sokkerster en lid van die Bafana Bafana-span wat in die 2026 Wêreldbeker-sokker geskie­denis gemaak het, maar vir Stellenbosch was Jayden Adams ‘n broer, ‘n vriend en ‘n toonbeeld van talent in die plaaslike gemeenskap.

Dié 25-jarige Idasvalleier was as jong sokker­speler lid van die plaaslike Glen Eagles-sokkerklub voordat hy deur die Stellenbosch-sokkerklub (FC) opgeraap is.

Adams, alombekend as Grootman, het die maroen-trui tussen 2020 en 2025 saam met ander uitblinkers soos wyle Oshwin “Ossie” Andries en Antonio van Wyk gedra.

Adams se liggaam is Saterdag 11 Julie by ‘n woning in Schotsche­kloof, in die Kaapse middestad, gevind. Die omstandighede wat tot sy dood gelei het, word nog deur die polisie ondersoek.

LEES OOK: South African World Cup midfielder Jayden Adams dies at 25

Jayden Adams
Jayden Adams in aksie vir Bafana Bafana in hul openingswedstryd teen Mexiko. Foto: Carl de Zouza/AFP

Wynlande-ambassadeur

Adams se jongste vertoning op die veld was as lid van die Suid-Afrikaanse span wat vandeesmaand aan die Wêreldbeker-­toernooi in Mexiko deelgeneem het.

Dié middelveldspeler het saam met die nasionale span geskiedenis gemaak deur die uitkloprondes te haal. Hulle het uiteindelik 1-0 teen Kanada vasgeval.

Volgens sy voormalige klub was Adams ‘n trotse ambassadeur vir die Kaapse Wynlande.

“Jayden laat ‘n blywende ­nalatenskap in Stellenbosch en ‘n bestendige invloed op Suid-Afrikaanse sokker agter. Hy sal diep gemis en nooit vergeet word nie,” het Stellenbosch FC gesê.

Adams het nadat hy as 19-jarige by dié klub aangesluit het, 139 verskynings as lid van die senior span gemaak en hy was lid van die wenspan wat in 2023 die Carling Knockout-trofee verower het.

Jayden Adams
Jayden Adams het in Mei die 2025-’26 CAF-kampioeneliga as deel van die Mamelodi Sundowns-span gewen.

Herinneringe gedeel

Robin Hendrikse, ‘n raadslid en sokkergeesdriftige, sê sy sukses dien as inspirasie vir ander Stellenbosch-jongmense.

“Vir my eie gesin is hierdie verlies uiters persoonlik. Ons gesinne deel ‘n diep band deur sokker. Ons het grootgeword deur naweke op die sokkervelde deur te bring – plekke waar lewenslange vriendskappe gesmee is, waardes gekoester is en ons gemeenskap deur hierdie wonderlike spel byeengekom het. Daardie herinneringe herinner ons daaraan dat sokker veel meer as net 90 minute op die veld is; dit gaan oor familie, eenheid en ‘n gevoel van tuishoort,” sê Hendrikse.

Ten spyte van roem was Adams gereeld langs die veld by plaaslike wedstryde waar hy die jongspan aangemoedig het. Vir baie in Stellenbosch was hy steeds “Grootman”.

“Ons het hom ‘Hatties’ genoem en deesdae ‘Grootman’, omdat hy die oudste was,” vertel die Stellenbosch FC-aanhanger Hajiera Arnolds.

“Dit was nie omdat hy die hardste gepraat het nie, maar omdat hy ‘n groot hart in ‘n jong lyf gehad het. Jayden het gelag met sy hele lyf. Wanneer hy ‘n vertrek binnegestap het, het die energie verander – hy het geweet hoe om die swaar oomblikke ligter te maak. Hy het geweet wie se beker leeg was en hy het dit kom volmaak met ‘n grap, ‘n luister-oor of net deur daar te wees.”

Adams se mees onlangse afrigter, Miguel Cardoso, die breier van Mamelodi ­Sundowns, het in ‘n emosionele skrywe gesê woorde kan nie beskryf wat “Grootman” vir die span beteken het nie.

“Ons het jou in ons familie verwelkom vandat ek by die klub aangesluit het. Ons het saam gegroei! Ek onthou hoe ek jou teen Stade Malien op Loftus in die Konferensie-liga sien speel het – jou laaste wedstryd vir Stellenbosch. ‘n Doel! Daardie ongelooflike beweging na die voorste paal en die pragtige kopskoot,” skryf Cardoso.

“Jy het so gemaklik en teen ‘n beheerde tempo beweeg, die veld gelees en die bal presies geplaas – asof jy ‘n GPS gehad het om die verkeer te vermy! Jou spel was skoon en presies; jy het jou spanmaats beter laat speel.”

Cardoso vertel verder van die skok nadat die span van Adams se dood gehoor het, maar sê die span sal hom altyd in hul harte dra.

‘n Private gedenkdiens word vanoggend (Donderdag 16 Julie) in die Stellenbosch-stadsaal gehou, met ‘n tweede diens om 17:00 wat oop is vir die publiek. Adams sal na verwagting Saterdag 25 Julie in Stellenbosch ter ruste gelê word.

LEES OOK: FIFA World Cup 2026

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article