‘n Nuwe mannebeweging is in Kylemore amptelik van stapel gestuur met die doel om die gemeenskap te versterk en morele verval te bestry.
Die Kylemore-mannebeweging (KMB) is op 1 Maart deur Eugene Keet van stapel gestuur, met ‘n kerngroep bestaande uit bekende gemeenskapslede soos David Carollisen, Malcolm Williams en Nigel Samuels.
Die beweging ontstaan teen die agtergrond van toenemende uitdagings in die gebied. Bendes, dwelm- en drankmisbruik, tienerswangerskap, onwettige vuurwapenvoorvalle en swak skooldissipline plaas die gemeenskap onder druk.
LEES OOK: ‘n Familiehuis met hart in Kylemore

Oop vir alle mans
Keet sê volgens die 2012- huishoudelike indeks staan 35% huishoudings onder vrouehoofde, terwyl 60% jongmense werkloos is. Baie vaders is fisiek aanwesig, maar emosioneel afwesig.
Die KMB se visie lui: “Om mans bymekaar te bring om ‘n voorspoedige, vreedsame en lewendige Kylemore-gemeenskap te bou, wat God se koninkryk weerspieël.”
Bemagtigingsessies fokus op sosiale vaderskap, met die oog op huise as “hemelse buiteposte”.
Programme sluit in omgewingsbewustheid, positiewe identiteit, ‘n vaardig-heidsakademie vir beplanning en ondersteuning vir tienerouers.
Die KMB werk saam met skole, die ERK en sportliggame. Hoewel die beweging vanuit ‘n Christenparadigma gedryf word, is dit oop vir mense van alle geloofsoortuigings. Volgens literatuur is 90% van Kylemore se inwoners bekennende Christene.
Toekomsplanne
Die KMB beoog die aktivering van ‘n buurtwag en polisisiëringsforum met kamers in kritieke gebiede en meer polisieklopjagte.
Intervensieprogramme vir boeliegedrag en youth diversion-programme word beplan, tesame met die uitrol van WKOD-kernwaardes en vaderbemagtiging deur The World Needs a Father Programme as deel van die strategiese plan.
Die KMB se vyfjaarvisie fokus op kultuurverandering, waar kwaad deur die goeie vervang word. Die strewe is ‘n vreedsame, voorspoedige Kylemore waar elke inwoner die geleentheid het om suksesvol te wees.
Die KMB het 24 manne uit verskillende kerkgroepe op hul digitale platform. Hulle het leidende rolle in skole, plaaslike bestuur, sportorganisasies en kerkgemeenskappe. Die boodskap aan vaders is duidelik: Voel gegrief oor morele verval en tree daadwerklik op.
Psalm 133 beklemtoon die eenheid wat die beweging wil vestig: In eenheid seën God. Keet sê: “As ons alles in eenheid bedryf, beloof God Sy seën (Psalm 133). Ons het verskillende bydraes om te lewer – saam kan ons ‘n magtige front skep en die morele verval binne ons gemeenskap omkeer.”
LEES OOK: Kylemore-kerk vier ‘n eeu van hoop





You must be logged in to post a comment.