Eskom restore 85% of power after flood outages.
Die Kylemore-gemeenskap het verlede week met amptenare van Eskom verskeie kwessies gelig.

Eskom span blikbrein in, maar Kylemore inwoners wil klagtes aan mense rig


“Die wind waai in Egipte, dan is ons elektrisiteit reeds af.”

Só meen die inwoners van Kylemore, wat onlangs die geleentheid gekry het om hul klagtes direk aan Eskom te rig. Elektrisiteit in die Dwarsrivier word deur die nasionale kragverskaffer behartig.

Die vergadering, wat deur Ronalda Nalumango gereël is, is op Woensdag 14 Oktober gehou met kundiges van Eskom se tegniese spanne asook David Ockhuis, die bestuurder van kliënteverhoudinge vir Eskom in die Wes-Kaap.

Onder inwoners se vele klagtes was ­kragrekeninge van R30 000, versoeke vir nuwe koopkragbokse en Eskom se vermoë om elektrisiteit aan ‘n groeiende Dwarsrivier te verskaf en is alles op die gemeenskapsvergadering uitgelig.

LEES OOK: Dwarsriviervalleiers vra: Waar is ons krag?

Kabels se ligging

Inwoners wou veral antwoorde hê oor die gereelde kragonderbrekings, die lang wagtydperk om elektrisiteit te herstel en hoekom tegnici wat na die dorp kom om slegs een spesifieke probleem op te los, nie liewer ander wonings in die gebied ook kan bedien nie.

Ockhuis het egter verduidelik tegnici mag slegs werk aan die spesifieke klagte waarvoor hulle ‘n werksnommer het en mag volgens Eskom se reëls nie van dié spesifieke klagte afwyk nie.

Hy het ook gebieg dat kapasiteit van die werksmag ‘n uitdaging is, maar dat spanne poog om alle klagtes so gou moontlik af te handel.

Volgens die tegniese span spruit talle van Kylemore se elektrisiteitskopsere uit die elektriese kabels wat kilometers lank is. Dié kabels loop deur die dorpie tot by die uithoeke van die gebied waar plase geleë is. Die probleem is egter indien daar enige foute op die kabels is, die dorp dan geraak word.

Die tegniese span het inwoners verseker die substasie het genoeg kapasiteit om die dorp van elektrisiteit te voorsien, maar baie van die kragonderbrekings word deur die natuur veroorsaak.

In die meeste gevalle is dit die wind en bome wat die kraglyn plattrek of beskadig en omdat die lyne deel is van ‘n landelike netwerk, is dit kilometers lank en op ‘n verskeidenheid terreine geleë, waaronder private grond.

“Een of twee dae sonder elektrisiteit kan ons hanteer, maar die probleem is wanneer dit langer as dit word. Daarna begin die kos in die yskaste sleg word en mense sit dan dae sonder enige duidelike antwoorde oor wanneer hul kragtoevoer herstel sal word,” het een inwoner gekla.

Betaal vir ‘n diens

Dié inwoner sê die kragonderbrekings is so gereeld dat hy intussen vir hom ‘n kragopwekker aangeskaf het.

Die inwoner Bridgette Jacobs meen aangesien talle van die dorp se inwoners ouer en bejaard is, moet Eskom meer doen om te verseker hulle verstaan hoe hul kragbokse en die proses om klagtes deur te voer, werk.

“Ons betaal vir ‘n diens en verwag dus ‘n diens,” het Jacobs beaam. Sy voeg by inwoners help mekaar soos nodig, maar baie het Eskom se blikbrein, “Alfred”, afgemaak en gesê hulle wil liewer hul klagtes aan ‘n mens rig.

“Alfred is ‘n manier vir ons om die registrasie van klagtes te vergemaklik. Alfred is ‘n automatiese chatbot wat julle toelaat om self klagtes aan te meld en beteken ‘n verwysingsnommer kan onmiddellik vir u klagtes geskep word. Die verwysingsnommer maak dit ook makliker vir u om tred te hou van waar in die ry u klagte is,” het Ockhuis verduidelik.

Om kommunikasie tussen Eskom en inwoners te verbeter, het Nalumango belowe om ‘n Eskom-klagte-Whatsapp-groep te help stig. Inwoners sal dan hul klagtes na ‘n handjievol uitverkore inwoners stuur, wat op hul beurt die klagtes by Eskom sal aanmeld.

Ondersoek sal ook ingestel word om Eskom se Hub-on-Wheels, ‘n mobiele kantoor van die kragverskaffer, na die Dwarsrivier te bring.

LEES OOK: In ‘duister(nis)’ gelaat

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article