Die skoolgemeenskap van Klapmuts Primêr het op Woensdag 18 Maart ‘n gemeenskapsvergadering gehou oor hul kommer oor die plaaslike skool.

Onder die klagtes was die tekort aan toilette, die elektrisiteit wat reeds weke lank af was en die algemene veiligheid by die skool.

Eikestadnuus het na die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) uitgereik vir kommentaar oor die stand van sake.

LEES OOK: Klapmuts Primêr-leerder ‘is wel doodgeskok’ bevestig polisie

Gemeenskapslede het Vrydagoggend (23 Januarie) by die Klapmuts-kliniek, reg oorkant die plaaslike laerskool, byeengekom ná die skielike dood van 'n agtjarige leerder. Foto: Yaël Malgas
Gemeenskapslede het Vrydag 23 Januarie by die Klapmuts-kliniek, reg oorkant die plaaslike laerskool, byeengekom ná die skielike dood van Matthew Baartman. Foto: Yaël Malgas

In reaksie het die departement gesê die skool het reeds kwotasies gekry om die toilette te herstel. ” ‘n Motivering is van die departement se direktoraat vir infrastruktuur vir terugbetaling ontvang,” het Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder vir die WKOD, bevestig.

Elektrisiteit by die skool is vroeg vanjaar deur Eskom afgeskakel. Dit nadat Matthew Baartman (8) by die skool doodgeskok is.

Hoewel die departement meen die seun is nie dood weens ‘n elektriese skok nie, het die Klapmuts-polisie bevestig die oorsaak van Matthew se dood was ‘n elektriese skok.

‘n Onafhanlike ondersoek na die leerder se dood is deur die departement begin, maar die bevindings is nog nie bekendgemaak nie. Hammond het gesê die elektrisiteit word tans by die skool herstel.

Sy het ook gesê die klaskamers wat aanvanklik buite gebruik was ná Matthew se dood op Vrydag 23 Januarie, is weer oop vir gebruik.

“Veiligheidsmaatreëls is ná die voorval ingestel terwyl die ondersoek aan die gang was,” het Hammond oor veiligheid by die skool gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article