Beskerm ons skool; beskerm ons kinders.
Dít is die noodkreet van die Laerskool Cloetesville se bestuur nadat die skool sedert Junie glo 10 keer onder diewe deurgeloop het.
Die skool se internet- en ander kabels uit die skoolsaal en dreine is op Donderdag 3 September gesteel en afgeknip.
Volgens die skoolbestuur maak dit die taak van onderrig nog moeiliker weens die gesteelde infrastruktuur en skade wat aan ondermeer waterpype, deure en vensters aangerig word.
“Dit is duidelik dat gate in die skool se heinings geknip word waardeur die skelms beweeg. Hulle kom tydens die donkerste en stilste ure en dra alles weg. Die hele alarmstelsel is gesteel, stoele is gesteel sowel as toerusting van die voedingskema,” verduidelik Edward Michaels, die voorsitter van die skool se beheerliggaam.
LEES OOK: Franschhoek-inbrake: Voorvalle staan al op agt, verdagtes glo bekend



Algemene bedryf geraak
Die Laerskool Cloetesville in Currystraat is ‘n skool sonder skoolgeld en het sowat 600 leerders.
Michaels sê die skool het twee onderwysers in beheerliggaam-poste en die verskeie inbrake maak dit al hoe moeiliker om die finansiële volhoubaarheid van hierdie twee poste te verseker.
Hy meen met elke inbraak moet toerusting en skoolinfrastruktuur vervang word en dit word nie altyd deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) gedek nie. “Elke keer wanneer ons infrastruktuur beskadig word, word geld – wat vir kinders se ontwikkeling bedoel is – aan herstelwerk bestee. Dit beteken minder hulpbronne vir onderrig, leermateriaal, sport, kultuur en ander geleenthede,” kla Michaels.
Veiligheidshekke, waterpype en deure is alles deel van die infrastruktuur wat gereeld vervang moet word. Die skoolbestuur sê wanneer die water afgesny is, beteken dit die higiëne en algemene bedryf van die skool word geraak.
Wanneer tegnologiese toerusting gesteel word, word die administrasie en leeromgewing ontwrig en wanneer die infrastruktuur weggedra word, beteken dit die veiligheid van die leerders en personeel, in ‘n buurt wat ook onder bendegeweld deurloop, nie verseker kan word nie.
Bedags is lede van StellSorg by die skool om toegang tot die skool te monitor en te beheer, maar Michaels sê saans is geen veiligheidswagte op die perseel aan diens nie.
“Geen skool kan hierdie stryd alleen wen nie. Ons benodig die ondersteuning en betrokkenheid van die hele gemeenskap. Ons het ouers, inwoners, ondernemings, alumni en gemeenskapsleiers nodig om saam met ons verantwoordelikheid te neem vir die beskerming van hierdie belangrike gemeenskapsbates,” sê Michaels.
Vier inbrake in een maand
Die skoolbestuur meen die gemeenskap moet eienaarskap van hul skool neem synde dit juis die omliggende gemeenskap se kinders is wat hier onderrig kry.
Prakties beteken dit om waaksaam te wees en enige verdagte aktiwiteit by en om die skool, by die polisie aan te meld.
Die WKOD het by navraag gesê in Augustus alleen is vier inbrake aangemeld. Van die eiendom wat gesteel is, was rekenaars, musiekinstrumente, koperpype en ‘n geiser.
“Hoewel die skool bruikbaar is, veroorsaak sulke voorvalle ontwrigting asook uitgawes. Dit is uiteindelik die leerders wat daaronder ly,” verduidelik Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder vir die WKOD.
“Die algehele geraamde verlies en skade beloop R181 000. Die skool het ‘n alarmstelsel wat aan ADT se gewapendereaksiespan gekoppel is. Die departement is in gesprek met die skool rakende bykomende beveiliging en versoek om met plaaslike gemeenskapsbelanghebbendes te skakel om gemeenskapsondersteuning te probeer werf om soortgelyke voorvalle te voorkom.”
Sy meen samewerking tussen die gemeenskap, sekuriteitsmaatskappye en die gemeenskapspolisiëringsforum is noodsaaklik vir misdaadvoorkomig.
Die skoolbestuur meen die skool kan ‘n “baken van hoop en geleenthede” vir die hele gemeenskap wees.
Eikestadnuus na die Cloetesville-polisie uitgereik vir kommentaar, maar het geen reaksie ontvang nie.






You must be logged in to post a comment.