Wyle Chesray Albertus
Wyle Chesray Albertus is Maandag in Cloetesville doodgesteek.

Geweld in Cloetesville eis 2 lewens binne 2 dae


Twee dood in twee dae.

Die gemeenskap van Cloetesville het die afgelope Sondag (11 Oktober) en die volgende dag (12 Oktober) twee inwoners, van wie een ‘n 14-jarige seun was, aan die dood afgestaan.

Meer mentorskap, veilige ruimtes en geleenthede liewer as meer polisiëring was die voorstel om die voortslepende geweld in dié buurt hok te slaan.

Die Cloetesville-polisie het vandeesweek bevestig ‘n 14-jarige seun het Sondag in Combriestraat, White City aan sy wonde beswyk nadat hy gesteek is.

Die plaaslike polisiewoordvoerder, AO Zenobia Sedeman, het bevestig daar was ‘n skietery in die buurt die dag, maar die seun is vermoedelik in Davidsestraat gesteek en het in die rigting van Crombiestraat gevlug waar hy gesterf het.

Maandag was ook ‘n bloedige dag met ‘n 32-jarige man wat in Carriemstraat met drie meswonde gevind is. Volgens Sedeman is ‘n verdagte in verband met Maandag se messteek aangekeer.

LEES OOK: Man (19) helderoordag in Cloetesville doodgeskiet

“Dit was nie reg wat hy aan my kind gedoen het nie. Ons het ‘n vertrouensverhouding gehad en ek was soos sy instaan ma,” vertel Joline Albertus oor die man wat vermoedelik haar seun Maandag doodgesteek het.

Albertus sê sy is Maandagaand oor 23:00 by haar woning op geklop. Iemand het verduidelik Chesray (32), haar jongste kind, is gesteek in lê in die straat. “Ek gryp toe ‘n kombers. Ek het gedink as daar baie bloed is, kan ek die ­­kombers gebruik. Toe ek daar kom, het ek die kombers onder sy kop gesit, maar sy kop het net geval,” sê sy.

Albertus se sig is die baie goed nie en sy kon nie sê of haar seun nog lewend was toe sy op die toneel kom nie. “Die polisie het vinnig opgedaag. Hulle het dieselfde aand die verdagte in hegtenis geneem.”

Gemeenskapslede het vandeesweek Albertus se huis vol gesit soos mense haar gesin besoek het om hul medely te deel.

“Hy het altyd almal gegroet. Chesray het goeie maniere gehad. Ek het regtig nie verwag die verdagte sou só iets aan my kind doen nie. Almal praat nou met lof van Chesray – hy was nooit betrokke by bakleiery nie en hy was nie deel van ‘n bende nie. Hy was ‘n goeie mens,” meen Albertus.

Wyle Chesray Albertus
Wyle Chesray Albertus is Maandag in Cloetesville doodgesteek.

Chesray se suster, Elzette, sê sy gaan haar jongste broer baie mis. Inwoners, gemeenskapsleiers en politici het na aanleiding van die moorde gesê meer moet gedoen word in gemeenskappe waar geweld en misdaad hoogty vier.

“Ons het meer as net uitdrukkings van besorgdheid nodig nadat nog ‘n lewe verlore gegaan het. Ons het ‘n gekoördineerde, praktiese reaksie nodig wat die veiligheid van inwoners vooropstel, kommunikasie met geaffekteerde gemeenskappe verbeter en verseker dat voorvalle van ernstige geweld deeglik ondersoek word,” meen Robin Hendrickse, inwoner en plaaslike raadslid.

Hendrickse was Sondag omstreeks 20:00 in Cloetesville saam met haar ma in haar motor op pad om kiesersvorms vir die komende plaaslike verkiesing by ‘n woning op te laai toe sy byna in die kruisvuur van skietery in White City vas gekeer is.

Sy sê sy het gevrees vir haar lewe en het reguit na die Cloetesville-polisiekantoor gery om die skietery aan te meld. Sy het egter op pad na die polisiekantoor op beamptes in ‘n polisiewa afgekom en hulle in kennis gestel van die geweld.

Na afloop van die moorde en skietery wou Cloetesvillers weet waar die Stellenbosch-munisipaliteit se taktiese reaksie- en honde-eenheid was om die geweld te help hok slaan.

Dié gespesialiseerde eenheid werk reeds ‘n geruime tyd lank in die munisipale gebied. Beamptes was wel op die toneel, maar gemeenskapslede meen meer ondersteuningsdienste vir jongmense moet geskep word en “nie net gewag word tot die skade klaar gedoen is nie”.

LEES OOK: Stellenbosch Tactical Response and K9 units launched officially

Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, bevestig beamptes van die reaksie-eenheid was Sondag in Cloetesville. Die munisipale wetstoepassers het volgens Grobbelaar gehelp om die skare te bestuur, sodat mediese personeel die slagoffer kan help.

“Beamptes het ondersteuning aan die polisie verleen deur orde te handhaaf en koördinering met polisie- mobiele eenhede totdat die situasie gestabiliseer is,” sê Grobbelaar.

Volgens die jongste misdaadstatistieke van Cloetesville, soos uiteengesit deur SafeSuburb, is 17 moorde tussen April 2025 en Maart vanjaar aangeteken. Dit is ‘n toename van 21,4% vergeleke met dieselfde tydperk die vorige boekjaar.

Nova News het na die oorlede tienerseun se gesin uitgereik vir kommentaar, maar hulle was nie beskikbaar vir kommentaar teen druktyd nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article