Byron Scheepers van Groendal Sekondêr.
Byron Scheepers van Groendal Sekondêr.

‘n Jong leier uit die Kaapse Wynland-distrik het geskiedenis gemaak deur die eerste persoon uit dié gebied te word wat die Wes-Kaapse Jeugparlement toegespreek het – ‘n mylpaal wat hy met groot trots en verantwoordelikheidsgevoel aanvaar.

As nuut-ingeëdigde afgevaardigde vir ‘n termyn van 12 maande is Byron Scheepers van Groendal Sekondêr in Franschhoek vasbeslote om konkrete verandering in die lewens van plaaslike jongmense te bewerkstellig deur die unieke uitdagings van die wynstreek aan te spreek.

Die Kaapse Wynland bied weliswaar geleenthede in die landbou-, wyn- en toerismesektore, maar jongmense in die gebied staar steeds ernstige uitdagings in die gesig.

Beperkte toegang tot tersiêre opleiding, swak openbare vervoer in landelike gebiede, armoede en dwelmmisbruik is van die knelpunte wat aandag verdien.

Byron Scheepers van Groendal Sekondêr.
Byron Scheepers van Groendal Sekondêr.

“Jeugwerkloosheid, gebrek aan vaardigheidsontwikkeling, kuberafknouery en bendegeweld is kritiese kwessies wat ons moet aanspreek,” sê Scheepers. “Ons sien ook die agteruitgang van inheemse tale en verlies van kulturele identiteit as ‘n groot kommer.”

Een van die groot suksesse van sy termyn tot dusver is die verwysing van jeugkwessies na relevante staande komitees van die Wes-Kaapse provinsiale parlement.

Hierdie proses gee die Jeugparlement meer geloofwaardigheid en verseker opvolging en aanspreeklikheid.

“Ons werk nou daaraan om kwessies soos jeugwerkloosheid en bendegeweld met rigting aan relevante departemente te verwys,” sê hy.

Verandering vir jong mense

Scheepers het reeds twee belangrike temas vir komende parlementsittings voorgestel, naamlik “Jeug in regering en mag” vir Junie, asook “Taal en identiteit” vir September. Hierdie sittings sal fokus op die noodsaaklikheid vir meer jeugdeelname aan regering, beleidmaking en leierskap.

Scheepers se visie is om die Jeugparlement as ‘n katalisator en brug tussen jongmense, gemeenskappe en die regering te gebruik.

“Ons wil sterker verhoudings bou en werklike verandering in die lewens van jongmense bewerkstellig,” sê hy.

Die fokus is op die bekamping van kernprobleme wat jongmense raak, naamlik werkloosheid, vaardigheidsontwikkeling, kuberafknouery wat tot emosionele skade en selfs selfmoord-risiko lei, en bendegeweld.

Gemeenskap eerste

Hy sê wat hom motiveer, is die passie wat hy altyd gehad het om sy gemeenskap te dien.

“My doel was nog altyd om ‘n verskil in die wêreld te maak, maak nie saak hoe klein nie. Dit is juis wat my motiveer om meer betrokke te raak by jeug- leierskapstrukture. Toe ek vir die eerste keer van ‘n struktuur soos die Jeugparlement gehoor het, was ek nog baie jonk.

“Reeds toe het ek vir myself gesê dat as ek werklik ‘n verskil wil maak, moet ek in daardie ruimtes wees waar besluite geneem word en waar jongmense se stemme gehoor kan word.”

Scheepers sê om ‘n afgevaardigde in die Jeugparlement te wees, gee hom die geleentheid om die stemme van jongmense in sy gemeenskap en distrik te verteenwoordig.

“Word betrokke, laat jou stem hoor, sluit aan by jeugstrukture en werk saam om verandering te bewerkstellig,” is sy boodskap aan mede-jongburgers.

Scheepers se toewyding aan gemeenskapsdiens en sy gevoel van trots toe hy die eerste keer die Jeugparlement toegespreek het, dien as inspirasie vir ander jongmense om leiding te neem.

Met sy fokus op konkrete aksie, sterker verhoudings en werklike verandering, beloof hierdie 12-maandtermyn om ‘n beduidende impak op jeugontwikkeling in die Kaapse Wynland te hê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article