‘n Tiener en ‘n middeljarige man is die afgelope naweek in twee afsonderlike steekvoorvalle in die Helderberg vermoor.

Die eerste voorval het Saterdag 9 Mei omstreeks 15:38 in Tyesi-straat, Allan Boesak Village, plaasgevind waar ‘n 18-jarige doodgesteek is.

Volgens sers. Wesley Twigg, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, is ‘n saak van moord by die Strand-polisie aangemeld nadat die tiener ‘n steekwond aan die nek opgedoen het. Mediese personeel het hom op die toneel dood verklaar.

‘n Man (42) is in verband met die moord in hegtenis geneem en sal in die Strand-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is. Die omstandighede rakende die voorval word tans ondersoek.

In ‘n afsonderlike voorval ondersoek die Macassar-polisie ‘n saak van moord nadat ‘n 52-jarige man gesteek is.

AO Desiré Adendorf, ‘n polisiewoordvoerder vir die Macassar-polisie, sê die slagoffer, James Lentoro, het blykbaar Sater­dag omstreeks 21:00 onder die invloed van alkohol by sy woning in Small Circle-straat, Macassar, opgedaag.

Hy het die deur oopgetrap en ‘n 52-jarige vroulike verdagte glo geslaan en op die vloer gegooi.

Lentoro het die verdagte blykbaar met ‘n spieël gegooi, waarna sy na bewering ‘n mes gegryp en hom gesteek het.

Die oorledene het toe ‘n kombers gevat en op die rusbank gaan slaap. Toe die verdagte later probeer om hom wakker te maak, het sy besef hy is dood.

Die verdagte het gister (Dinsdag 12 Mei) in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • DistrictMail & Helderberg Gazette – E-Edition – 13 May 2026
    DistrictMail & Helderberg Gazette – E-Edition – 13 May 2026

Gift this article