Die Macassar-polisie ondersoek ‘n moordsaak nadat ‘n jongman verlede Woensdag (29 Julie) in ‘n skietvoorval gesterf het.
Volgens ‘n polisiewoordvoerder het die voorval omstreeks 20:30 in Musikalaan afgespeel. “Die polisie is ontbied nadat gemeenskapslede skote gehoor het. Tydens ondersoek is ‘n liggaam in die bure se erf aangetref. Met polisiebeamptes se aankoms is die slagoffer met kopwonde gekry. Hy is op die toneel dood verklaar,” het die woordvoerder gesê.
Die omstandighede rondom die noodlottige voorval vorm deel van die polisieondersoek en niemand is nog in verband met die skietmoord in hegtenis geneem nie.
Die slagoffer is geïdentifiseer as die 26-jarige Grant de Vos van die Macassar-gemeenskap.
‘n Naasbestaande van die oorledene het met lof oor hom met die koerant gepraat. “Hy het gelewe vir die gemeenskap en was altyd bereid om te help. Hy was ‘n openhartige mens wat lief was om uit te reik na ander in elke moontlike opsig.
“Ons gaan veral sy grappies en danspassies mis.”
De Vos word oorleef deur sy ouers, twee susters en ‘n susterskind.



