Tienerseun in Strand afgemaai.
Strand-polisie ondersoek moord op tienerseun in Rusthof.

Strand-polisie ondersoek moord op tienerseun in Rusthof 


Die Strand-polisie ondersoek ‘n saak van moord nadat ‘n tienerseun in ‘n skietvoorval om die lewe gebring is.

Dié 16-jarige is die afgelope Saterdagaand (27 Junie) in Rusthof dood aangetref nadat die polisie teen ongeveer 19:15 ‘n klagte oor ‘n skietery in Titusstraat ontvang het. Die polisie het met hul aankoms die jongman op die teerpad aangetref met ‘n enkele skootwond aan sy linkerslaap. Hy is later deur sy ouma uitgeken.

Geen getuies het tot dusver na vore gekom nie, geen verdagtes is geïdentifiseer nie en geen koeëldoppies is op die toneel gevind nie.

Die motief is tans onbekend en niemand is in hegtenis geneem nie.

Die gemeenskapsleier Brent Louis, wat ‘n video-boodskap van die toneel af gedeel het, het sy meegevoel aan die familie betuig en ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om saam te staan. “Dit is hartverskeurend om te sien hoe jongmense teen mekaar draai. Ons moet mekaar opbou – nie lewens verloor aan geweld nie,” het sy Facebook-inskrywing by die video gelui.

“Dit is genoeg. Ons moet saamstaan­ teen geweld en saamwerk om ‘n veili­ger omgewing vir ons kinders en gesinne te skep.”

Louis het enigiemand wat belangstel om ‘n gemeenskapsforum-, buurtwag- of Gemeenskap-in-Blou-inisiatief te help vestig of daarby aan te sluit, aangemoedig om hom te kontak. “Saam kan ons ‘n positiewe verskil maak en ons gemeenskap beskerm.”

  • Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die Strand-polisie by 021 854 9100 of Misdaadstop by 08600 10111 te skakel.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article