PRETORIA – Die Hoërskool Witteberg in Bethlehem en Hoërskool Waterkloof in Pretoria het die naweek die kollig gesteel toe hulle onderskeidelik die junior- en seniorafdelings van AfriForum se nasionale Dink of Sink-debatkompetisie gewen het.
Op Saterdag 19 September het 12 van die land se beste skole debatspanne mekaar met goeie argumente en vinnige denke by Akademia se Leriba-kampus in Pretoria die stryd aangesê.
Witteberg se Heilene Meintjes, Inge Meintjes en Lize Joubert het in die juniorafdeling, vir gr.8- en gr.9-leerders, met goud weggestap. Die Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria se Moné Hugo, Mia du Plessis en Liza Marais het die tweede plek behaal.

In die seniorafdeling vir gr.10- tot gr.12-leerders het Waterkloof se Elzerie Vermaak, Ivan Louw en Hugo Louw die titel verower. Die Hoërskool Framesby se Micaela Potgieter, Therese Otto en Matthys Potgieter het as naaswenners geëindig.
Die finaliste het uit die provinsiale uitdunrondes in Gauteng, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga, Oos-Kaap en Wes-Kaap gekom. Onder die junior finaliste was Hoërskool Framesby, Hoërskool Jan van Riebeeck, Hoërskool Nelspruit, Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria, Hoërskool Witteberg en Hoërskool Ben Vorster. In die senior-afdeling het Framesby, Hoërskool Durbanville, Hoërskool Nelspruit, Waterkloof, Witteberg en Merensky Landbou Akademie meegeding.
Elke span het gedurende die eindronde drie debatte oor verskillende aktuele onderwerpe gevoer. Die deelnemers moes sonder vooraf voorbereiding hul standpunte formuleer, verdedig en op hul teenstanders se argumente reageer. Volgens Carien Bloem, AfriForum se hoof van onderwysprojekte, het die kompetisie oor die afgelope dekade uitgebrei tot ’n belangrike platform vir jong Afrikaanse debatteerders.
“Dit is nie genoeg om bloot ’n mening te hê nie. Jy moet dit kan verdedig en soms ook die moed hê om van mening te verander,” sê sy.
Die kompetisie is tien jaar gelede begin met die doel om Afrikaanse debat op skool- en later ook universiteitsvlak te bevorder.

Die deelnemers ontwikkel volgens die organiseerders nie net hul redenaars- en debatvaardighede nie, maar leer ook om krities te dink, te luister, vrae te stel en hul standpunte onder druk te verdedig.
Nicolene Smith, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die suidstreek, het gesê die hoërskooldebatspanne het vanjaar ’n hoë standaard van openbare spreekkuns en kritiese denke gehandhaaf.
“Die hoërskooldebatspanne het ’n indrukwekkende vlak van openbare spreekkuns en kritiese denke getoon deur goed beredeneerde standpunte en selfversekerde optredes,” sê Smith.
Sy het gesê daar word uitgesien na die verdere ontwikkeling van die kompetisie en die rol wat dit kan speel in die ontwikkeling van jong debatteerders.

Vir Witteberg se juniorspan beteken die oorwinning dat die skool nou met die nasionale Dink of Sink-trofee huis toe keer, terwyl Waterkloof in die senior-afdeling met die hoogste eerbewys bekroon is.





You must be logged in to post a comment.