Die Hoërskool Witteberg in Bethlehem het Jaco van Zyl as die skool se nuwe sporthoof verwelkom.
Van Zyl het op Maandag 3 Augustus in sy nuwe pos begin en bring 16 jaar se ervaring in skoolsport na die skool.
Hy was van 2010 tot 2019 by Hoërskool Waterkloof betrokke voordat hy hom van 2020 tot 2026 by Hoërskool Garsfontein aangesluit het.
Daar was hy verantwoordelik vir sekuriteit, vervoer en sportinfrastruktuur.
Hoewel Van Zyl se ervaring wyd oor verskeie sportsoorte strek, het hy veral op die rugbyveld naam gemaak.
Hy het van 2011 tot 2013 drie agtereenvolgende Rugby 7’s-kampioenskappe met sy spanne verower.
Hy het ook spelers afgerig wat later op die hoogste vlak van die sport naam gemaak het. Onder hulle tel die voormalige Blitzbok Stedman Gans, oud-Springbok Ruan Jansen van Rensburg, Irné Herbst van Harlequins in Engeland en Giovan Snyman.
Van Zyl se afrigtingsloopbaan het in 2015 verdere hoogtepunte bereik toe sy span as naaswenners van die Beeldtrofee geëindig het.
Hy het daarna in 2016 en 2017 die eerste rugbyspan van Hoërskool Waterkloof afgerig. Die span het in 2017 as die 17de beste skolerugbyspan in Suid-Afrika geëindig.
Van 2021 tot 2026 was Van Zyl ook as afrigter en keurder by die Blou Bulle Rugbyunie betrokke.
Sy betrokkenheid by skoolsport beperk hom nie tot rugby nie. Hy het ook krieket- en atletiekspanne afgerig en as spanbestuurder vir swem en atletiek opgetree.
Van Zyl sê hy sien uit na die nuwe uitdaging by Witteberg en die geleentheid om ‘n bydrae tot die skool se sport te lewer.
“Ek is opgewonde om deel van Witteberg te word omdat ek ‘n verskil wil maak. Mense is vervangbaar, maar wat jy doen, is nooit vervangbaar nie,” sê hy.
Van Zyl en sy vrou, Anja, het saam met hul dogtertjie, Anjumé, na Bethlehem verhuis.




