Pa, dogter van Bethlehem sterk aan ná ongeluk op pad skool toe

Die Ford bakkie van Strauss waarteen 'n afleweringstrok Donderdagoggend 17 September gebots het. Strauss moes losgesny word uit die bakkie. Foto:Verskaf
Die Ford bakkie van Strauss waarteen ‘n afleweringstrok Donderdagoggend 17 September gebots het. Strauss moes losgesny word uit die bakkie. FOTO: Verskaf

Pa, dogter van Bethlehem sterk aan ná ongeluk op pad skool toe

Die Ford bakkie van Strauss waarteen 'n afleweringstrok Donderdagoggend 17 September gebots het. Strauss moes losgesny word uit die bakkie. Foto:Verskaf
Die Ford bakkie van Strauss waarteen ‘n afleweringstrok Donderdagoggend 17 September gebots het. Strauss moes losgesny word uit die bakkie. FOTO: Verskaf

BETHLEHEM. – ’n Bekende Bethlehemse sakeman, Vincent Strauss, en sy dogter, Miley, sterk aan nadat hulle in ’n ernstige botsing op die R26 in Bethlehem betrokke was.

Die ongeluk het op Donderdagoggend 17 September plaasgevind toe Strauss onderweg was om Miley, ’n leerder aan die Hoërskool Witteberg, by die skool af te laai. Die botsing het by die aansluiting van Cambridge- en Commissionstraat plaasgevind.

Volgens inligting wat aan die familie verstrek is, was ’n afleweringsvragmotor wat van Gauteng onderweg was na Ficksburg, by die ongeluk betrokke. Die vragmotor het glo die stopstraat genader voordat dit teen ’n hoë spoed met Strauss se bakkie gebots het.

Die botsing was so ernstig dat Strauss en Miley bewusteloos in die bakkie aangetref is. Strauss moes uit die wrak van die bakkie bevry word voordat hy na Mediclinic Bethlehem vervoer is. Volgens Strauss se ma, Paula du Toit, eienaar van die Roadside Diner in Bethlehem, het haar seun ernstige beserings opgedoen en moes opereer word. “Vincent het baie seergekry. Een van sy duime is in die ongeluk afgeskeur en hy moes geopereer word,” het Du Toit gesê.

Strauss is Saterdag uit die hospitaal ontslaan nadat hy ’n suksesvolle operasie aan sy hand ondergaan het. Hy sterk tans tuis aan van sy veelvoudige beserings maar sy toestand is stabiel.

Miley het hoofsaaklik kneus- en skaafplekke opgedoen en sterk volgens haar familie goed aan. ’n Gastehuiseienaar wat naby die ongelukstoneel woon, het gesê sy het die slag van die botsing duidelik gehoor. Volgens haar het die vragmotor teen ’n baie hoë spoed gery.

Vincent Strauss  en sy dogter, Miley (15), sterk aan nadat hulle in ’n ongeluk op die R26 in Bethlehem betrokke was. FOTO: Verskaf
Vincent Strauss en sy dogter, Miley (15), sterk aan nadat hulle in ’n ongeluk op die R26 in Bethlehem betrokke was. FOTO: Verskaf

Die presiese omstandighede wat tot die ongeluk gelei het, moet egter nog deur die owerhede vasgestel word. Die ongeluk het weer kommer oor padveiligheid op die R26-pad in Bethlehem laat ontstaan. Du Toit sê verskeie ongelukke het al by die betrokke aansluiting plaasgevind.

Sy doen ’n beroep op die betrokke owerhede om dringend aandag aan die verkeersituasie by die aansluiting te skenk en maatreëls in plek te stel om soortgelyke ongelukke te voorkom. 

Die R26-pad is ’n belangrike verbindingsroete deur die Oos-Vrystaat en verbind onder meer Bethlehem, Reitz, Fouriesburg, Ficksburg, Clocolan en Ladybrand.

Groot kommer bestaan ook steeds oor die Bakenpark-aansluiting op die R26 tussen Reitz en Bethlehem, waar talle ongelukke lewens geeis het.

“Verskeie ongelukke het al by hierdie skeiding van die pad gebeur. Ons wil graag ‘n versoek aan die owerhede doen dat daar daadwerklik na die probleem gekyk word sodat soortgelyke tragiese ongelukke in die toekoms voorkom kan word,” sê Du Toit.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article