BETHLEHEM – Huldeblyke en boodskappe van medelye het vanuit verskeie oorde ingestroom nadat die nuus bekend geword het dat Marie van Zyl, bekende inwoner van Bethlehem en mede-eienaar van Cheetau Game Lodge buite die dorp, oorlede is.
Van Zyl is op Sondag 20 September kort ná 18:00 in die hospitaal oorlede, het ds. Dougy Bubb van die NG Kerk Bethlehem-Efrata in ‘n boodskap bevestig. Sy en haar man, Bok van Zyl, was op Saterdag 5 September in ’n ernstige ongeluk op die N1 tussen Colesberg en Bloemfontein betrokke. Hul voertuig het met ’n vragmotor gebots. Marie het ernstige kopbeserings opgedoen en is sedertdien in die hoësorgeenheid van die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein behandel. Sy het twee weke lank om haar lewe geveg.
Bok het ook in die ongeluk beserings opgedoen, maar is behandel en het volgens inligting daarna stabiel gebly en goed aangesterk.
Bubb het sy medelye aan Bok, die Van Zyl-familie en hul naasbestaandes betuig. Hy het ook almal bedank wat die afgelope twee weke na die gesin uitgereik het met oproepe, boodskappe, omgee en gebede.
Die nuus van Marie se dood het talle mense diep geraak, met vriende, kennisse en mense wat haar deur Cheetau Game Lodge geken het, wat hul herinneringe aan haar gedeel het.
Steffanie van Zyl het op Facebook geskryf dat sy “nie woorde” het nie en Marie as ’n “hartsmens” beskryf.
“My kuiertjies by Cheetau sal ek vir altyd in my hart koester, en al die baie mooi herinneringe. Jou omgee en jou liefde vir jou medemens. Rus sag, liefste Marie. Jy los ’n baie groot leemte,” het sy geskryf.
Sy het ook vir Bok en die familie sterkte toegewens en gebid dat Jesus hulle in dié hartseer tyd sal toevou.
Johane Odendaal het Marie as ’n “pragtige, dinamiese vrou met soveel dryfkrag en passie” beskryf.
“Tannie het ’n verskil gemaak,” het Odendaal geskryf.
Marie en Bok was oor die jare ook bekend vir hul betrokkenheid by Cheetau Game Lodge en hul liefde vir die natuur en wild.
Die egpaar het vroeër vanjaar ook ’n groot verlies beleef toe Simba, Cheetau se oudste mannetjiesleeu, in Februarie skielik na ’n beroerte dood is. Die Van Zyl-gesin het destyds vertel dat Simba se dood vir hulle gevoel het asof hulle ’n kind verloor het.

Marie se dood volg enkele maande later en laat volgens vriende en bekendes ’n groot leemte in die gemeenskap. Begrafnisreëlings kon nog nie bevestig word nie.






You must be logged in to post a comment.