Alle paaie lei eerskomende Saterdag (15 Augustus) na die Bolandpark-stadion in Worcester wanneer die dorp se twee top-rugbyspanne, Multisure Villagers en Young Hamiltons, mekaar die stryd gaan aansê.
Hekke open reeds om 08:00. Om 09:00 word ‘n rugbykliniek deur Multisure Villagers en Rainbow, een van die klub se borge vir die dag, aangebied waaraan tien laerskole gaan deelneem.
Dit sal om 11:15 gevolg word deur ‘n o.19-skolewedstryd tussen die Hoërskool Breërivier en Worcester Senior Sekondêre Skool, gevolg deur Hexvallei Senior Sekondêre Skool om 12:15 teen Somerset-hoërskool.
Die derdespan-wedstryd tussen Multisure Villagers en Young Hamiltons skop om 13:30 af, waarna die wedstryd tussen die naasbestes om 14:00 begin.
Die hoofwedstryd skop om 16:00 af.




