Agter van links: Die rdl. Koos Steyn (Kaapse Wynland-distrik), Ruan Horak (SPS), die rdl. Julian Kritzinger (BVM), Garth Cloete (SPS), Paul Rosenbrock (SPS), Cobus van Deventer (NID se uitvoerende hoof), Braam Human (BCE) en Anrich du Plessis (BCE). Voor: Herman Bührmann (BCE); Nathan Bam (SPS), Rousseau Malan (NID- voorsitter) en uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn (BVM).

Sonkragstelsel gee NID nou langtermyn-krag

Agter van links: Die rdl. Koos Steyn (Kaapse Wynland-distrik), Ruan Horak (SPS), die rdl. Julian Kritzinger (BVM), Garth Cloete (SPS), Paul Rosenbrock (SPS), Cobus van Deventer (NID se uitvoerende hoof), Braam Human (BCE) en Anrich du Plessis (BCE). Voor: Herman Bührmann (BCE); Nathan Bam (SPS), Rousseau Malan (NID- voorsitter) en uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn (BVM).

Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) het ‘n groot stap vorentoe geneem in hul strewe na langtermyn-volhoubaarheid met die inwerkingstelling van ‘n indrukwekkende nuwe fotovoltaïese (PV) sonkragstelsel. Hierdie inisiatief verseker nie net ‘n aansienlike bespa­­ring op die instituut se maandelikse elektrisiteitsrekening nie, maar lewer ook ‘n waardevolle bydrae tot die plaaslike kragnetwerk en die omgewing.

Finansiële volhoubaarheid vir die toekoms

Die primêre doelwit van die nuwe son­krag-installasie is om NID se bedryfskoste drasties te verlaag. Deur hul eie krag op te wek, kan die instituut noodsaaklike finansiële hulpbronne bespaar en na hul kernvisie herlei. Hierdie slim besparing verseker dat NID hul onskatbare werk en ondersteuning in die gemeenskap op ‘n finansieel volhoubare wyse vir nog talle jare kan voortsit.

Indrukwekkende skoon energie

Die stelsel is op ‘n stewige, vaste staal­struktuur op die grond gemonteer en genereer sowat 1,74 GWh (gigawatt-uur) skoon energie per jaar. Om dit in perspektief te plaas: Dit is gelykstaande aan die gekombineerde jaarlikse kragopwekking van ongeveer 125 deursnee- huishoudelike sonkragstelsels.

Die stelsel wek 3-fase krag op, wat omgeskakel en opgestoot word na 11 000 V (11 kV) om direk tot die munisipale kragnetwerk by te dra. Daarbenewens beskik die installasie oor ‘n 100 kWh-battery.

Hierdie battery is spesifiek ontwerp om NID se piek-aanvraag gedurende besige tye te verminder (peak shaving), wat hul algehele elektriese voetspoor verder vervolmaak.

Kleiner koolstofvoetspoor, sterker plaaslike netwerk

Die omgewingsvoordele van die projek is eweneens indrukwekkend. Deur grootliks oor te skakel na sonkrag – ‘n hernieubare hulpbron – vermy NID ongeveer 1 600 ton koolstofdioksied per jaar.

Enige oortollige krag wat die stelsel opwek, word aan die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) verkoop. Hierdie wen-wen-samewerking beteken dat die munisipaliteit minder afhanklik word van Eskom se steenkool- gebaseerde kragsentrales, wat die hele gemeenskap se groen voetspoor bevoordeel.

‘n Gesamentlike suksesverhaal

‘n Projek van hierdie omvang is die gevolg van goeie samewerking en tegniese uitnemendheid. Die projek sou nie moontlik gewees het sonder NID se finansiering en visie nie, gepaardgaande met die BVM se oopkop-benadering en bereidwilligheid om hernieubare energie deel van hul plaaslike kragnetwerk te maak.

Bührmann- raadgewende ingenieurs (BCE) het die omvattende lewensvatbaarheidstudie behartig. Hulle het die verwagte opbrengste en die uitwerking op die munisipale netwerk noukeurig ontleed om te verseker dat die kragopwekking omgewingsvriendelik én tegnies volhoubaar is.

Die fisieke installasie en bouwerk is deur die PV-kontrakteurs Sustainable Power Solutions (SPS) behartig. Hul tegniese vaardighede, toegewydheid en harde werk het daartoe gelei dat hierdie ingewikkelde projek suksesvol gerealiseer is.

NID wys met hierdie projek wat moontlik is wanneer ‘n plaaslike instansie en munisipaliteit vir ‘n groener toekoms hande vat.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article