Breedevallei-munisipaliteit raadsinhuldiging
Die Breedevallei-munisipaliteit se nuwe raad word vandag (24 November) ingehuldig. Foto: Ronél van Jaarsveld

REGSTREEKS| Breedevallei-munisipaliteit kies nuwe raad

Breedevallei-munisipaliteit raadsinhuldiging
Die Breedevallei-munisipaliteit se nuwe raad word vandag (24 November) ingehuldig. Foto: Ronél van Jaarsveld

12:13 – Raadslid Steyn het vir etlike jare as die Demokratiese Alliansie se Wesstreekdirekteur gedien waar hy verantwoordelik vir die Demokratiese Alliansie se administrasie in die Boland en Weskus was.

Hierna is hy al vir drie termyne verkies om as voorsitter van die Demokratiese Alliansie in die Wesstreek (Boland- en Weskusstreek) te dien.

Tot voor die verkiesing het Steyn as die KWDM se Burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling en toerisme gedien.

Rdh Koos Steyn
Raadsheer Koos Steyn lewer sy inhuldigingstoespraak.

12:09 – Rdh. Koos Steyn (DA) is verkies tot die uitvoerende burgemeester van BVM met 21 stemme teenoor 16 stemme vir Moses Mangali (ANC). Daar was weer vier bedorwe stembriewe. In sy aanvaardingstoespraak het hy klem gelê daarop dat daar meer ekonomiese geleenthede geskep moet word sodat gesinne vir kos op die tafel kan sorg en elke gewillige hand werk kan vind.

Palesa Mosa - BVM Speaker
Die nuutverkose Speaker van die BVM-raad, Ald Palesa Mosa aan die woord. Foto: Ronél van Jaarsveld

11:31 – Palesa Mosa is as Speaker van die BVM-raad verkies met 21 van die stemme. 16 raadslede het vir Colin Wildskut gestem en vier stembriewe is ongeldig verklaar (bedorwe stembriewe). Mosa het haar loopbaan begin as persoonlike-assistent vir die Speaker van die raad, en reg daarna as raadslid gedien en ook op die Kaapse Wynlande- distriksmunisipaliteit.
Sy was voorheen die voorsitter van die portefeulje vir behuising en menslike nedersettings.
Opposisie raadslede het haar gelukgewens en geprys vir haar ervaring.

BVM raadsinhuldiging
Die 41 stemme word getel onder die wakende oog van verteenwoordigers van die OVK en politieke partye verteenwoordig in die raad.

11:18 – Die 41 raadslede is pas ingehuldig. Daar word tans gereedgemaak, met die hulp van verteenwoordigers van die Verkiesingskommissie (OVK), om vir die twee persone wat genomineer is vir Speaker te stem. Hulle is Palesa Mosa (DA) en Colin Wildskut (BO).

BVM raadsinhuldiging
Die 41 raadslede van die Breedevallei-munisipaliteit nadat hulle Dinsdagoggend (24 November) ingehuldig is. Foto: Ronél van Jaarsveld

10:00 – Die Breedevallei-munisipaliteit se eerste raadsvergadering sedert die munisipale verkiesing vind vanoggend (24 November) plaas. Die raad se nuwe speaker, uitvoerende burgemeester en adjunk-burgemeester sal by dié geleentheid ingehuldig word.

Die raad het 41 raadslede en die volgende partye word in die raad verteenwoordig: DA (20 setels), ÀNC (7), PA (5), VF Plus (3), BO (3), ACDP (1), GOOD (1) en EFF (1).

Die DA in die Breedevallei het ‘n stempersentasie van 47,57 in die munisipale verkiesing ontvang, maar het met 20 setels een te min gehad om die volstrekte meerderheidsbeheer alleen te bekom.

In ‘n munisipale raad soos Breedevallei, wat uit 41 setels bestaan, benodig ‘n party of koalisie minstens 21 setels vir ‘n volstrekte meerderheid.

Vandag se raadsinhuldiging sal dus ook bepalend wees watter koalisie gevorm is om die 21 setels vol te maak.

Lede van die publiek wat graag Breedevallei-munisipaliteit se raadsinhuldiging wil volg, kan dit hier kyk:

  • Hou Standard se Facebookblad en webtuiste dop vir meer hieroor.

LEES OOK: DA in BVM en Langeberg sal waarskynlik koalisies moet vorm

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article