WORCESTER – Vier plaaslike hoërskole het Woensdag (25 Maart) sake uitgespook om te bepaal wie in die eindstryd van die skole-afdeling van die komende Paasnaweek se Easter Clash in die hoofvoorwedstryd gaan kragte meet en met die louere wegstap.
Alle paaie lei natuurlik Saterdag, 4 April, na Bolandpark in Worcester wanneer die dorp se twee topspanne Multisure Villagers Worcester teen bure Young Hamiltons, in die jaarlikse Easter Clash mekaar die stryd aansê.
Die byeenkoms, wat nou bekendstaan as die Multisure Easter Clash, het ‘n nuwe baadjie aangetrek en onder die slagspreuk “Rivalry op the field, Unity in the Community” wil Young Hamiltons en Multisure Villagers Worcester eenheid en trots in die gemeenskap terugbring. Die dag beloof dus om ‘n simbool te wees van wedywering op die veld, maar eenheid in die gemeenskap – ‘n viering van trots, hoop en samewerking wat Worcester se mense saambring.
In aanloop tot die Clash, is daar op 25 Maart ook op Bolandpark wedstryde tussen die vier plaaslike skole gereël om te bepaal wie Saterdag in die hoofvoorwedstryd teen mekaar gaan speel. In die eerste wedstryd van die dag, moes Worcester Sekondệr tot die einde gefokus bly om ‘n begeesterde Somerset High met 17-12 te klop terwyl Esselenpark Sekondệr op meer as net vernuf moes staatmaak om bure Hoërskool Breërivier met 7-3 te troef.






Boonop het Esselenpark eers die wendrie behaal nadat die skeidsregter twee geelkaarte vir ongeoorloofde spel, aan Breërivier gegee het en hulle vir ‘n lang ruk met dertien spelers moes klaarkom.
In die netbal het Esselenpark en Breërivier mekaar op die baan ontmoet met Esselenpark wat die oorhand met 21 doele teenoor Breërivier se 16 aangeteken het. Worcester Sekondêr het ook gewys wat in hulle steek met ‘n eindtelling van 21 – 9 teen Somerset High School.







Nog foto’s: Multisure Villagers Worcester & Young Hamiltons Easter Clash 2026
Die wenspanne ding Saterdag mee om die trofee terwyl die verloorspanne om derde en vierde plek gaan uitspeel.
Alles lekker vermaak om jou Paasnaweek op die regte noot af te skop. ‘n Spesiale bylaag is lesers te wagte in die uitgawe van 9 April.
Volledige uitslae:
- RUGBY
Esselenpark 7 – 3 Hoërskool Breërivier
Worcester Sekondêr 17 – 12 Somerset Hoërskool
- NETBAL
Esselenpark 21 – 16 Hoërskool Breërivier
Worcester Sekondêr 21 – 9 Somerset Hoërskool
◘ Kaartjies vir die rugbytoernooi is by Pick n Pay of aanlyn beskikbaar.





You must be logged in to post a comment.