Twee mans het ‘n grusame ontdekking gemaak toe hulle op die lyk van ‘n man in Johnsonspark in Worcester afgekom het.

Die man se lyk is verlede maand (Saterdag 31 Januarie) in ‘n oop veld in Duncanstraat gevind, het AO Vathiswa Jacobs, woordvoerder van die Worcester-polisie, bevestig. Die twee mans het die polisie verwittig en vir hulle gewys waar hulle die lyk gevind het. Die man het op sy rug gelê en het ‘n oranje broek en grys baadjie aangehad.

By nadere ondersoek het die polisie vasgestel dat daar ‘n oop wond aan sy rug was. Sy regterhand was opgeswel en langs hom het ‘n bloedbesmeerde klip gelê.

AO Jacobs sê die polisie ondersoek die saak verder.

 In nog ‘n moord het ‘n man op die Denau-plaas in die De Wet- omgewing buite Worcester gesterf nadat hy tydens ‘n stryery met ‘n mes gesteek is.

Volgens die polisie is die motief vir die moord vermoedelik die verkryging van dwelms. ‘n Man het glo die slagoffer die afgelope Saterdag (7 Februarie) gestuur om vir hom dwelms te gaan koop, maar nie dadelik teruggekom nie. Toe hy die volgende dag opdaag, wou die man glo weet waar sy dwelms is. “Die slagoffer het aan hom gesê hy is beroof. Die ver­dagte in die aanval het by die twee mans aangesluit  en… [ná ‘n rusie] ‘n mes uitgepluk en die slagoffer in die borskas gesteek.”

Die verdagte is in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article