Die raadslid Daniël Baadjies van die Demokratiese Alliansie is in ‘n onlangse tussenverkiesing in die Langeberg-munisipaliteit tot wyksraadslid verkies.
Die tussenverkiesing is verlede Dinsdag (3 Februarie) in wyk 4, Bonnievale, gehou. Die wyk sluit Happy Valley, Mountain View, Boekenhoutskloof en die nywerheidsgebied in.
Baadjies het 975 van die 2 423 stemme verwerf (40,47%), met James Noble van die ANC wat 881 stemme (36,57%) verwerf het. Moses Plaatjies van die Patriotic Alliance het 546 stemme (22,67%) gekry en Jason Carlton Matthys van die Truth-party het sewe stemme (0,29%) gekry, het die Onafhanklike Verkiesingskommissie aangedui.
Die wyk het 4 386 geregistreerde kiesers en die stem-opkoms was 55,22%.
Baadjies, wat al 50 jaar ‘n inwoner van Bonnievale is, het die wyk in Oktober 2025 in ‘n tussenverkiesing as ANC-raadslid gewen. Hy het egter in November besluit om by die DA aan te sluit en het die wyk nou weer vir die DA gewen.
“Ek voel geëerd dat ek verkies is om die mense van wyk 4 te dien,” het Baadjies gesê.
“Ek sien daarna uit om saam met inwoners, gemeenskapsleiers en munisipale beamptes te werk om ons plaaslike probleme die hoof te bied en op die vooruitgang wat reeds gemaak is, te bou. Saam kan ons ‘n sterker, meer gehegte en veerkragtige gemeenskap skep.”
Die Langeberg-munisipaliteit het Baadjies as nuwe raadslid verwelkom.
“As deel van sy pligte as raadslid sal hy betrokke wees om plaaslike regulasies deur te voer, begrotings en ontwikkelingsplanne goed te keur, dienstariewe vas te stel en die gemeenskap se belange in die raad te verteenwoordig.”





