Deurdringende reën saai wyd ontwrigting, doen skade

Dié foto wat deur Gert Coetzee geneem is, wys hoe die Koos Kokdam in Robertson daar uitsien ná die reën. Die munisipaliteit se damvlakke was kritiek laag.

Lekkende dakke, verspoelde strate en appels wat vol haelskade onder die bome lê. Inwoners was dankbaar vir die reën wat Sondagnag en Maandag uitgesak het, maar dit het ook skade vir talle meegebring.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vooraf ‘n vlak 4-waarskuwing uitgereik dat swaar reën oor ‘n groot gebied in die Wes-Kaap mag val.

Stormwater het regdeur die Langeberg Sekondêre Skool in Robertson se terrein gestroom en klaskamers was tydelik ontoeganklik.

Die Breedevallei-munisipaliteit het bevestig dat reën wyd oor sy munisipale gebied geval het. Ligte reën het so ver as Touwsrivier geval. In Zwelethemba was daar gelokaliseerde oorstromings in informele nedersettings in laaggeleë gebiede.

Die Langeberg-munisipaliteit het gesê swaar reën het oor al vyf dorpe en die omliggende plase uitgesak. Volgens die munisipaliteit was daar geen voorvalle nie, hoewel sekere gebiede gelokaliseerde oorstromings gehad het. Die Breederivier se vlak was matig en is goed dopgehou met nog reën wat voorspel is, het Daniël Lubbe, die munisipale bestuurder, gesê.

Die BVM het inwoners in kennis gestel dat die water in hul krane troebel mag wees omdat die hewige reënbui grond en plantmateriaal in die dam ingespoel het. Kraanwater kan tydelik verkleur wees, maar dit word steeds met chloor behandel en is veilig vir menslike verbruik.

Die reën het groot skade vir gesinne in die informele nedersetting in Askamp meegebring met hul besittings wat deurdrenk is. Gemeenskapslede het ingespring om die water te probeer weglei van die huise af. Foto: Nik Wullschleger

Lesers het vertel dat hulle soveel water teen Maandagoggend uit hul reënmeters gegooi het: Worcester (40mm), Prince Alfred Hamlet (40mm met erge hael), Ro­bertson (35mm), Villiersdorp en Vyeboom (65mm) en Rawsonville (46mm).

Die stortreën het probleme veroorsaak vir talle gesinne in informele behuising. By die Roodewal-woonstelle en die As-

kamp- informele nedersetting het groot poele water om huise gevorm en gesinne se besittings was deurdrenk. Van die kinders kon nie skool toe gaan nie as gevolg van die vloedwater.

Die BVM het sandsakke uitgedeel en raadslede Margaret Swarts, Nik Wullschleger en lede van die wykkomitee asook ‘n groep jongmense het ingespring om grondvore te grawe om die water weg van die strukture af te lei.

In Robertson het die water kniediep deur die Langeberg Sekondêre Skool se terrein gespoel. ‘n Video daarvan het wyd die ronde gedoen met kinders wat deur die water voor die klaskamers loop. Volgens die skoolhoof, John Booysen, was 17 klasse Maandag ontoegangklik.

“Ons was nog besig in die personeelkamer toe die water deurkom. Een van ons onderwyseresse, Caitlin Africa, was op haar tafel in haar klaskamer vasgekeer,” het hy gesê. ‘n Verstopte stormwaterpyp wat by die skool verbyloop, was moontlik die oorsaak. “Die munisipaliteit maak dit gewoonlik voor die reënseisoen skoon, maar dié reën het ons onkant betrap.”

Die skoolkinders mag dalk gedink het dat hulle ‘n paar dae lank by die huis gaan bly, maar die skoolhoof het ander planne gehad. “Ons het ‘n ongelooflike span by die skool. Hulle het Dinsdagoggend vroeg ingespring om die klaskamers skoon te maak. Daar was vier klasse wat ons nie kon gebruik nie omdat dit vol modder was, maar dit word ook skoongemaak.”

In die Ceres-omgewing het hael groot skade vir vrugteboere meegebring. Baie van hulle was op die punt om te begin oes.

Onheilspellende wolke hange oor die Langebergstreek kort voor ‘n hewige reënbui en donderweer oor die vallei uitgesak het. Die foto is op ‘n plaaspad tussen Robertson en Klaasvoogds geneem. Foto: Francois Lombard

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article