Worcester se Easter Clash, wat op Paas-naweek as deel van die Nekkiesfees plaasvind, het ‘n groot hupstoot gekry, met Multisure as ankerborg van die rugbyderby wat op 4 April by Boland Park plaasvind.
Die byeenkoms, wat nou bekendstaan as die Multisure Easter Clash, het ‘n nuwe baadjie aangetrek en onder die slagspreuk “Rivalry on the field, Unity in the Community” wil Young Hamiltons en Multisure Villagers Worcester eenheid en trots in die gemeenskap terugbring.
Die hoop is dat hierdie toernooi tot een van die grootste amateurrugbyskouspele in Suid-Afrika sal groei.
Die jaarlikse derby het al meer as 10 000 toeskouers na die rugbyveld gelok. Die klubs se drie spanne sal in die derby teen mekaar kragte meet.
Hammies en Villa vier vanjaar onderskeidelik hul 78ste en 163ste bestaansjaar.
As deel van die klubs se visie om saam te werk om eenheid en trots in die gemeenskap terug te bring, is ‘n aantal voorafgaande projekte geidentifiseer – van Paaseiers by hospitale tot sanitêre doekies vir skole – om ‘n tasbare verskil in die lewens van mense in die gemeenskap te maak.
Deur skole te betrek, bied die Easter Clash ook ‘n unieke platform om jong ta- lent te ontwikkel en te inspireer.
Die vier deelnemende skole – Worcester Senior Sekondêr, Esselenpark Senior Sekondêr, die Hoërskool Breërivier en Somerset Hoërskool – sal op Woensdag 25 Maart kragte meet, met die eindronde wat sal dien as die voorwedstryd vir die groot derby-wedstryd tussen Hammies en Villa op Saterdag 4 April.
Die skole het ‘n gesamentlike verklaring uitgereik waarin hulle hul ondersteuning vir die inisiatief beklemtoon.
“As vier skole wat diep gewortel is in die gemeenskap van Worcester en die Breedevallei, glo ons dat sport ‘n kragtige middel is om jongmense te vorm en gemeenskappe te verenig. Die Easter Clash is nie net ‘n rugbytoernooi nie – dit is ‘n geleentheid om trots, dissipline en gemeenskapsgees te bou. Ons deelname beklemtoon die belangrikheid van same- werking, respek en die viering van talent wat ons leerders op die veld toon,” lui die verklaring. Die skole doen ‘n beroep op hul personeel en leerders om die aktiwiteite by te woon en saam te werk om die Easter Clash ‘n simbool van hoop, trots en eenheid te maak.
Die Multisure Easter Clash beloof om ‘n simbool te wees van wedywering op die veld, maar eenheid in die gemeenskap – ‘n viering van trots, hoop en samewerking wat Worcester se mense saambring.
◘ Kaartjies vir die rugbytoernooi is by Pick n Pay of aanlyn beskikbaar.





