Multisure Villagers se linkervleuel, Cubitt Michaels, pas nadat hy een van sy span se drieë gedruk het, met die senters Wayne Plaatjies en Elton Mfundisi wat in sy vreugde deel. Foto: Dafiq Williams

Villagers behou wenkoers na oorwinning teen Ashton United

Multisure Villagers se linkervleuel, Cubitt Michaels, pas nadat hy een van sy span se drieë gedruk het, met die senters Wayne Plaatjies en Elton Mfundisi wat in sy vreugde deel. Foto: Dafiq Williams

Multisure Villagers het die afgelope Saterdag (25 Julie) seker gemaak dat hy op koers bly om as ligakampioen in die Langeberg-afdeling van die Grootuitdaagkompetisie van die Boland Rugbyunie gekroon te word toe hy Ashton United op die Kogmanskloofstadion in Ashton met ‘n bonuspuntsege van 37-24 verslaan het.

Benewens hierdie oorwinning het die naasvoorlopers, Robertson Town, met ‘n 47-8 oorwinning oor die Montagu-klub op die King Edwardstadion in Montagu geseëvier.

Beide spanne het dus ‘n duidelike boodskap aan die ander aanspraakmakers uitgestuur.

Multisure Villagers se linkervleuel Cubitt Michaels pas nadat hy een van sy span se drieë gedruk het met sy senters Wayne Plaatjies en Elton Mfundisi wat in sy vreugde deel. Foto: Dafiq Williams

Dit kom voor dat Villa en Town sake vir ligaglorie gaan uitspook, net soos verlede seisoen.

Alhoewel Ashton United en Swellendam nog ‘n skrale kans het om die voorlopers skrik te maak, is dit beslis neusie verby vir die res van die aanspraakma- kers. Met slegs vyf ligawedstryde oor kan hulle voortaan net vir spantrots veg.

Eerskomende Saterdag (1 Augustus) speel Multisure Villagers tuis op Bolandpark teen McGregor, wat behoorlik stert in die lug is ná hul naelskraap sege van 32-30 oor hul bure, Young Hamiltons, op die Esselenpark-stadion. Saterdag speel Robertson Town tuis teen die einste Ashton United, terwyl Young Good Hopes (ook van Ashton) besoek van die Montagu-klub ontvang. Touwpark kry besoek van Rangers van Robertson, terwyl Young Hamiltons na Bonnievale reis waar hulle die Blue Birds moet gaan pak. Die agterosse Alberts moet Saterdag vir Swellendam op die Powellstadion in Swellendam gaan aandurf.

In die Streekuitdaagkompetisie (Breërivier-afdeling) speel Overhex tuis teen Rawsonville United, terwyl Prim- roses ook tuisveld-voordeel gaan geniet teen die voorlopers, Proteas van De Doorns. Laingsburg ontvang besoek van Villagers Breërivier, terwyl Progress van Botha besoek van Mountain Stars ontvang. Klipdrift kom op sy tuisveld te staan teen Goudini, terwyl Worcester Perseverance vir De Doorns United in De Doorns die stryd gaan aansê.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article