Multisure Villagers het Saterdag (1 Augustus) nog ‘n tree nader aan die uitspeelronde van die Grootuitdaag-kompetisie gegee toe hy McGregor of McGully soos hulle ook bekend staan, op Bolandpark in die Langeberg-afdeling met 38-24 verslaan het. Dit nadat hulle teen rustyd reeds gerieflik met 26-3 voorgeloop en ook reeds ‘n bonuspunt (vir 4 drieë) verseker het.
Die wedstryd self het op ‘n baie hoë noot vir die tuisspan afgeskop toe sy regtervleuel Phillip Basson vanaf die afskop pragtig opvolg, die bal vorentoe skop en toeval.
Hy word egter teruggeroep omdat hy blykbaar voor die bal met die afskop was. Villa kry egter kort hierna wel punte toe die slot, Divan Erasmus, ná volgehoue druk deur sy voorspelers oorgaan vir ‘n drie wat die losskakel Elton Mfundisi verdoel.
Die telling groei aan na 14-0 toe die haker, Keith Arnold, ná ‘n dryfmaal-beweging oorgaan en Mfundisi verdoel nadat Villa se gedugte pak voorspelers hul opponente vir meer as 30m in trurat teruggedryf het.
Kort hierna rek die telling na 19-0 toe sy woelwaterflank Mario Marinus met ‘n lopie van nagenoeg 60m veld wen en toe hy voorgekeer word, was Basson by om af te rond. McGully kry hierna hul telling aan die rol toe die losskakel Keegan Jagers met ‘n strafskop slaag.
Bonuspunt
Kort voor rustyd kry Villa hul bonuspunt-drie toe Erasmus vir sy tweede drie oorgaan en Mfundisi weer verdoel om die telling op 26-3 te staan te bring.
Ná rustyd kry McGregor ‘n sewepunter toe hul slot en kaptein Nashwill Marthinus oorgaan vir ‘n drie wat Jagers boon- op verdoel. Villa slaan egter hard terug toe plaasvervanger-agsteman Jubalian Titus oorgaan en Mfundisi weer verdoel om die voorsprong na 33-10 te rek.
McGully gee egter nooit bes nie en die heelagter Lee-Auriel Swartz gaan vir ‘n drie oor wat Jagers ook verdoel om die agterstand na 17-33 te laat krimp. Villa rek egter weer hul voorsprong toe Basson ná ‘n lopie van meer as 50 meter in die hoekie oorgaan vir ‘n onvervyfde drie.
McGregor kry egter die laaste punte in die kragmeting toe die slot, Langdon Jantjies, oorgaan en Swartz verdoel om die eindtelling op 38-24 te staan te bring.
In die hoof-voorwedstryd klop Villa se naasbestes McGully se naasbestes met 64-10 en ryg in die proses 10 drieë in terwyl Villa se derdespan in die eerste wedstryd van die dag met 35-0 bo was om dit drie in ‘n ry vir die tuisspan te maak.
Eerskomende Saterdag (8 Augustus) lei alle paaie na die Callie de Wet-stadion in Robertson wanneer Multisure Villagers naasvoorlopers Robertson Town die stryd moet gaan aansê. McGregor op sy beurt geniet Saterdag tuisveld-voordeel vir hul kragmeting teen bure Rangers Robertson.



