Die skrum-apparaat wat verlede Donderdag bo-op die agtjarige Grandwill van der Horst beland het.

Seun (8) sterf terwyl hy en maats op rugbyveld speel

Die skrum-apparaat wat verlede Donderdag bo-op die agtjarige Grandwill van der Horst beland het.

Die vier jong kinders wat teenwoordig was ten tyde van ‘n fratsongeluk waarin die agtjarige Grandwill Gordon-Leigh van der Horst van Roodewal in Worcester verlede Donderdag (30 Julie) gesterf het, asook sy klasmaats en klasonderwyseres, ontvang tans berading.

Grandwill of “Peanut” soos hy geliefd bekend was, is oorlede toe ‘n rugby-skrum-apparaat bo-op hom op die sportveld van die Esselenpark-stadion oorkant sy ouerhuis in Worcester beland het. Die frats- ongeluk het gebeur terwyl hy en vier maatjies op die sportveld gespeel het.

Grandwill se pa, Rothney, sê soos hy verstaan, het die vier seuns die skrum-apparaat opgelig waarna sy seun onder dit ingekruip het. Volgens hom weet hy nie wat sy seun onder die apparaat gaan maak het nie.

“Een van die seuns wat help vashou het, het moeg geraak, die apparaat gelos en weggestap. Die ander drie seuns kon dit ook nie langer in die lig hou nie en het dit laat sak. Dis toe dat dit op Grandwill beland. Dis ‘n geweldige stuk yster daardie.”

Wyle Grandwill van der Horst

Kevin Sass, hoof van Esselenpark Primêre Skool waar Grandwill ‘n leerder was, sê dat hy Vrydag (31 Julie) onmiddellik die skoolsielkundige van die gru-voorval verwittig het. Hy sê Grandwill se klasmaats en klas-onderwyseres sukkel om sy dood te verwerk.

“Jy moes Vrydag hul (die kinders wat ten tyde van die voorval saam met Grandwill op die sportveld was) se ogies sien. Hulle het gedink meneer gaan met hulle raas, toe sê ek vir hulle ‘nee, die tannie [sielkundige] wil net met julle gesels oor wat gebeur het en wat julle moet doen’.”

Volgens Sass gaan die skool vanaf hierdie kwartaal leerders meer oor veiligheid in die algemeen en persoonlike veiligheid leer.

“Dis jammer dat hierdie fratsongeluk nou moes gebeur het. ‘n Mens kan altyd vir die kinders iets probeer leer, dan luister hulle nie. Maar nou het iets gebeur, nou gaan hulle meer ag slaan. Ons doen veiligheid elke jaar by die skool, maar nou dra dit net meer gewig.”

Op Sondag (2 Augustus) – die dag waarop Gandwill se oumagrootjie, Sophia Hansen, 79-jaar oud geword het – is ‘n kranslegging gehou op die plek waar hy oorlede is. Grandwill het gesterf op die dag wat sy pa se neef, Curtley Pieterse, se seuntjie sy eerste verjaardag gevier het.

Gisteraand (5 Augustus) is ‘n roudiens vir die seun by sy skool gehou.

Grandwill se begrafnisdiens is komende Saterdag (8 Augustus) 09:00 by sy ouerhuis by 105 Paulstraat en om 10:00 by die Ou Apostoliese Kerk in Söghnelaan.

Sers. Wesley Twigg, ‘n polisiewoordvoerder, sê ‘n geregtelike ondersoek gaan gedoen word. ‘n Lykskouing sal ook gedoen word om die presiese oorsaak van dood vas te stel.

Grey and Green Simple Information Scan Code Instagram Post – 1
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article