Willie Aucamp, Minister of Agriculture, recently met with representatives of the canning fruit industry in Robertson to discuss the looming crisis facing the industry. Photo: supplied

Tulbagh-vrugtefabriek sluit sy deure, duisende poste in gedrang

Willie Aucamp, Minister of Agriculture, recently met with representatives of the canning fruit industry in Robertson to discuss the looming crisis facing the industry. Photo: supplied

Premier Foods het bevestig hy is besig om sy Tulbagh-onderneming, Fruit Products Western Cape (FPWC), ter waarde van R1 miljard, te sluit.

Appelkose, perskes en pere word by dié aanleg verwerk.

BusinessTech berig die maatskappy het die dalende wêreldwye aanvraag, prysdruk en stygende insetkoste as redes vir die besluit aangevoer, met die tariewe wat verlede jaar deur Amerika ingestel is, as ‘n bydraende faktor.

Die fabriek het vroeër vanjaar deel van Premier Foods geword toe die verbruikersgoederegroep die verkryging en skrapping van die notering van RFG Holdings vir R6,5 miljard afgehandel het.

Die onderneming het egter steeds gesukkel namate uitvoermarkte verminder het.

BusinessTech berig voorts dat RFG beleggers voor die oorname gewaarsku het dat sy internasionale afdeling weens Amerikaanse invoertariewe druk ervaar. Dit het sy produkte minder mededingend gemaak, terwyl ‘n wêreldwye oorskot aan sagtevrugte pryse onder verdere druk geplaas het.

Die maatskappy sê internasionale inkomste het in die jaar tot September 2025 met 7,9% gedaal, terwyl uitvoervolumes met 6,8% afgeneem het.

Hoewel die internasionale afdeling slegs 19% van die totale inkomste gegenereer het, het dit die groep se swakste presterende segment geword.

Premier sê FPWC is blootgestel aan wêreldmarktoestande, aangesien sowat 90% van sy ingemaakte produkte uitgevoer word.

In ‘n verkaring aan BusinessTech bevestig die maatskappy dat hy ‘n konsultasieproses ingevolge artikel 189 met werknemers en hul verteenwoordigers oor die voorgestelde sluiting begin het.

“Premier besef dat dit ‘n uiters moeilike en onseker tyd vir die betrokke werknemers is, van wie baie jare lank diens aan FPWC gelewer het.”

Intussen sê die VF Plus in die Wynland in ‘n verklaring die beoogde sluiting van die FPWC- aanleg in Tulbagh sal sowat 3 000 permanente en seisoenale werksgeleenthede by die aanleg, sowel as die poste van plaaswerkers, in die gedrang bring.

Volgens die party word die negatiewe impak van die sluiting vererger omdat ‘n aanleg wat produkte vir die uitvoermark voorberei, daarby ingesluit is.

“Om aan hierdie markte te voorsien, is driejaarkontrakte met produsente gesluit. Premier Foods het aangedui dat hy nie dié kontrakte sal nakom nie. In so ‘n geval sal produsente reeds in die 2026/’27-seisoen met die vrugte opgeskeep wees. Produsente het honderde duisende rande aan voorbereiding van grond en boorde vir die opkomende oes bestee om húl kant van die kontrakte na te kom. Hulle gaan met vrugte sit wat nie ingeneem kan word nie.”

Die VF Plus sê na raming sal nuwe markte vir 55 000 tot 60 000 ton vrugte gevind moet word.

Produsente sal in dié laat ­stadium­ vir die gelag moet betaal.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article