Die beskadigde Smalblaarbrug in Rawsonville. Foto: Enrico Claassen

Stukkende brug knou ondernemings in Rawsonville


Die Smalblaarbrug in Rawsonville, wat in Mei vanjaar tydens die reën- en windstorms erg beskadig is en steeds onbegaanbaar is vir voertuie, is besig om van die dorp se grootste sake-ondernemings ‘n ekonomiese knou te gee – dít terwyl ander sakeondernemings stadig besig is om weer op die been te kom.

Leon Erasmus, ‘n mede-eienaar van Astron Energy in Rawsonville, skryf sy vulstasie se verlies aan inkomste toe aan die feit dat min verkeer sedert die storms deur die dorp onderweg na byvoorbeeld Robertson of Swellendam toe beweeg.

Hy sê hy het voorts besigheid verloor omdat motoriste van onder meer Brandvlei, De Nova en Louwshoek weens die beskadigde brug nie sy vulstasie maklik kan bereik nie.

“Hier en daar stap ouens oor die brug met kanne om met brandstof te vul, maar ook net genoeg om byvoorbeeld tot in Worcester te kom.”

Volgens Erasmus moes hy as gevolg van die onvoldoende verkeer wat deur die dorp beweeg, noodgedwonge die vulstasie se operasionele tye aanpas.

Hy sê waar hulle gewoonlik 24 uur per dag en sewe dae per week sake gedoen het, is die vulstasie tans nou net van 06:00 tot 20:00, maar wel sewe dae per week, oop.

Onaangename situasie

Niel Burger, die eienaar van OK Foods in Rawsonville, sê die onbegaanbaarheid van die Smalblaarbrug lei daartoe dat motoriste wat van die Smalblaarbrug gebruik gemaak het, nie meer hul inkopies by sy winkel kom doen nie. “Aan die einde van die dag is dit vir ons moeilik. Dis ‘n onaangename situasie.”

Hy sê die afname in klante het daartoe gelei dat sy werknemers nou korter ure werk. Volgens hom beïnvloed die korter werksure hul inkomste omdat hulle per uur betaal word.

Volgens Burger was die korter werks­ure ‘n gesamentlike besluit tussen die bestuur en personeel. Hy sê daar is tans nie meer ‘n behoefte om normale werks­ure te werk nie omdat daar minder voete in die dorp is.

Burger sê hoewel die dorp “ekonomies bloei”, het OK Foods sy bes gedoen om nie personeel af te lê nie omdat die situasie net tydelik is.

“Ek is nog nie bekommerd nie, want ons hoofkantoor kyk na ons. In hierdie stadium kan ons nog ons uitgawes dek, maar dit raak al moeiliker.”

Verkope halveer

Maggie Pople, die bestuurder by ­Chrisma Slaghuis in Rawsonville, sê twee weke ná die verwoestende storms het die slaghuis se kredietverkope halveer. Volgens haar het dit nog nie herstel nie. Pople sê sy was aanvanklik baie angstig.

Sy sê die feit dat baie kampeerplekke in die omgewing in die storms wegge­spoel het en daar nie meer so baie vakansiegangers is nie, raak ook die sake-onderneming.

Volgens haar het die slaghuis nie ‘n verlies aan vleisprodukte gely nie omdat een van hul groot kliënte sy koel- en vrieskamers aan hulle beskikbaar gestel het.

Sy sê die Here het vir hulle deurgekom, want dit was ook nie vir hulle nodig om werknemers korter ure te laat werk nie. “Ons kon die verliese sien, maar kon daarvoor opmaak.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article