Terwyl sy lewelose liggaam in ‘n pikdonker gangetjie in die Spokiesdorp- informele nedersetting in Rawsonville gelê het, het sy ma in yskoue weer plat op die grond langs hom gaan sit, sy kop vasgehou, en aanhoudend vir hom gebid.
Vrydagaand (15 Mei) het die noodlot die Moses-gesin van die Hammat Square- informele nedersetting in Rawsonville getref toe hul middel-kind, Kyle Shawn Moses (20), noodlottig gewond is toe hy met ‘n skerp voorwerp in die bors gesteek is.
Kyle se ma, Kastoleen Moses (46), vertel dat ‘n vriend van Kyle Vrydagaand omstreeks elfuur aan hul voordeur gehamer en vir hulle die tyding gebring het dat hul seun gesteek is en dat daar baie bloed is. Volgens Kastoleen het sy en haar man, Salvester (53), hulle te voet na die toneel gehaas. Die toneel is sowat vyf minute weg van hul huis.
Kastoleen sê toe hulle by die toneel aankom, was sy aanvanklik huiwerig om na haar seun se lyk te gaan kyk.
Volgens haar het haar seun in ‘n gangetjie tussen Hammat Square en Spokiesdorp gelê.
Salvester vertel toe hy en sy vrou by die toneel aankom was ‘n onbekende vrou besig om Kyle se steekwond te verbind. Volgens Salvester het dit niks gehelp nie, want sy seun was toe alreeds oorlede. “Ek het nader gegaan, aan sy gesig gevat, en vir hom gesê ‘Dadda is hierso’.”
Volgens Salvester het sy vrou kort hierna plat op die grond langs hul seun gaan sit, sy kop op haar skoot vasgehou en aanhoudend vir hom gebid.
Salvester sê Kyle was uit saam met vriende toe die voorval plaasgevind het.
Volgens Salvester vertel die vriend dat hy en Kyle die aand van die voorval afgekom het op twee mense wat aan die stry was. Hy sê Kyle is gesteek toe hulle ondersoek wou gaan instel.
Salvester beskryf Kyle as ‘n “rustige mens” wat versot was op rugby en krieket.
Kyle word ook oorleef deur ‘n ouer broer, Marlon (27), en jonger broer, Skyler (14).
Sy begrafnisdiens is eerskomende Saterdag (23 Mei) om 10:00 in die VGK Goudini.
Volgens AO Vivienne Hurling-Jordaan, ‘n polisiewoordvoerder, is ‘n 58-jarige man van Rawsonville Saterdag (16 Mei) in verband met die voorval in hegtenis geneem. Die verdagte het Maandag (18 Mei) op ‘n moordklag in die Worcester-landdroshof verskyn.
Die saak is uitgestel tot 26 Mei en word dan in die Rawsonville-landdroshof hervat.
Die verdagte word aangehou.





