‘n Gemeenskap en sy mense wys hul harte wanneer ‘n krisis ontstaan.
Tydens die onlangse stormweer, wat die Boland so verniel het, het talle inwoners ingespring om ander wat in nood was, te help.
Die manne van die Overhex-buurtwag het hul hande volgehad nadat die vloedwater besonder vinnig afgekom en plaasbewoners onkant betrap het.
Frans Pietersen, die koördineerder van die buurtwag, sê hy, tesame met sy twee seuns, Anwa en Francois, en sy assistent Johannes Martiens, het die riviere deur die nat en koue nag gemonitor. “Ons het Dinsdagoggend (12 Mei) om 02:00 besef die rivier oorstroom sy oewer en plaaseienaars in veral die De Wet-omgewing gewaarsku om hul mense uit hul huise te kry,” het hy vertel. Teen sonop was die brûe oorspoel en niemand kon deurkom nie. Die buurtwag moes inspring om te help.
“Ons het ‘n oproep gekry van ‘n man in ‘n bakkie, wat deur die water van die pad af geslinger is. Ons is die water in om hom te gaan uithaal.”
Die span het hul eie voertuig gebruik om die water se krag te breek sodat hulle kon ingaan. Pietersen sê hoewel hy oor die jare al dikwels die water in is om vasgekeerdes te help, hy self nie kan swem nie.
Die lesse wat hy vroeër jare in die weermag en as polisiereservis geleer het, is altyd van groot waarde in sulke omstandighede.
‘n Tweede oproep het gekom dat ‘n groot groep mense by Rivieraplaas op die Villiersdorppad vasgekeer is. “Daar was ou mense, kinders en gestremdes in die groep, wat heelnag in die water vasgekeer was.”
Namate die water deur die nag aangehou styg het, het die groep – altesaam 98 mense – telkens na hoër grond gevlug om uit die vloedwater te probeer bly. Die rivier het ‘n vertakking gemaak en hulle was later op ‘n eiland, wat al kleiner geword het, vasgekeer.
Nooddienste se hande was vol omdat hulle reg oor die streek hulp moes verleen. Die buurtwag en talle plaaseienaars het die mense te hulp gesnel.
“Ek het Stefan Terblanche, wat herstelwerk aan bote doen, gebel. Hy het die vloei van die water getoets en ‘n rubber duck gebring, waarmee ons die mense drie op ‘n keer uit die water kon bring,” het Pietersen gesê.
Hulle moes die boot sowat ‘n kilometer deur die water oor verspoelde plantegroei stuur om by die mense uit te kom. ‘n Handradio is saamgestuur sodat hulle met die mense kon kommunikeer. ‘n Laaigraaf is selfs ingespan om mense in die graaf en kajuit te laai en tot op droë grond te bring.
Die kinders en ‘n ma met ‘n maand oue baba is heel eerste gered. Die span het van 10:00 af tot 16:30 in nat en koue omstandighede gewerk. “Vir my was die heel ontstellendste die weerlose man wat in ‘n rolstoel was en ‘n bedleênde vrou, wat ons gered het,” het hy gesê.
Die nooddienste het om 14:00 opgedaag om te help.
Die meeste van die mense het alles verloor. Sommiges kon ‘n paar kledingstukke of ‘n kombers uit die water red en op die boot uitbring.
Die groep word tans by die Overhex-gemeenskapsaal gehuisves.

Nadat ‘n oproep om hulp op ‘n plaaslike WhatsApp-groep gestuur is, het inwoners in die omgewing vrygewig klere, komberse en kos geskenk.
“Almal in die omgewing is tans in ‘n rou-proses,” het Hester Naudé gesê oor boere wat skade gely en mense wat hul huise en besittings verloor het. Sy en Lizette Kloppers het die skenkings by die Jat Fruit-pakhuis uitsorteer.

Twee beraders – Jackie en Shannon Govenor – het die groep mense die afgelope Sondag kom bedien en berading gedoen. “Die trane het gevloei – die mense is erg deur die gebeure getraumatiseer.”
Die watervlak in daardie omgewing was blykbaar 2m hoër as die vloedwater van 2024, maar die rivier het baie breër gevloei.
“Mense hier rond kan nie onthou dat hier al so baie water hier deur is nie,” het Naudé gesê.





You must be logged in to post a comment.