Sowat ‘n maand gelede het sy en haar driejarige seuntjie – haar enigste kind – vol hoop uit Motherwell in die Oos-Kaap na die Wes-Kaap vir ‘n moontlike werksgeleentheid verhuis – sodat sy vir hom ‘n beter lewe sou kon gee.
Hierdie droom van ‘n beter lewe vir die 30-jarige Mandisa Tshanga en haar seuntjie, Azosule, het verlede Dinsdag (25 Augustus) in ‘n nagmerrie ontaard toe hy buite hul informele woonstruktuur in die Emagwaleni- informele nedersetting in Zwelethemba, Worcester, doodgeskok is.
‘n Hartseer Mandisa het aan Nova News, Standard Breederivier Gazette se suster-aanlyn-nuusplatform, vertel dat Azosule kort voor die voorval omstreeks 18:00 met maatjies verder af in die grondpad, wat oortrek was met poele water, gespeel het. Sy vertel dat Azosule geskok is toe hy geraak het aan ‘n lewendige elektriese kabel wat op die grond gelê het.
Verbyganger probeer seuntjie help
Volgens Mandisa het ‘n verbyganger gesien hoe Azosule geskok word. Sy sê hy het die kabel onmiddellik uit Azosule se hand weggevat. Volgens haar het een van haar vriende Azosule herken toe die onbekende man navraag oor die kind gedoen het. Volgens Mandisa het sy en ‘n vriendin na die toneel afgesit en Azosule later in ‘n kombers toegedraai. Sy sê hulle kon daarin slaag om ‘n minibus-taxi tot by die Zwelethemba-polisiekantoor te haal. Mandisa sê op pad na die hospitaal het sy aanhoudend Azosule se naam uitgeroep en hom gesmeek om wakker te word. Volgens haar was haar seun se oë in daardie stadium agtertoe gerol en sy mond het oopgehang. Sy sê die polisie het die nooddienste ontbied. Nooddienspersoneel het Azosule by die polisiekantoor dood verklaar.
Konst. Ndakhe Gwala, ‘n polisiewoordvoerder, sê die polisie het met ‘n geregtelike doodsondersoek begin.





