Vier rand bejaardes buite Wolseley aan, 75-jarige bewusteloos gevind

‘n Bejaarde egpaar is buite Wolseley aangeval en beseer.

Vier rand bejaardes buite Wolseley aan, 75-jarige bewusteloos gevind


‘n Bejaarde man (75) is deur paramedici bewusteloos aangetref in die gastehuis waar hy en sy vrou (67) tuisgegaan het nadat vier gemaskerde booswigte in die middernagtelike ure by hul wooneenheid in die Wolseley-omgewing ingebreek, hom met stokke aangerand en toe probeer verwurg het.

Kort voordat hulle die man aangerand het, het hulle sy vrou se trouringe met geweld van haar vingers af geruk, haar vasgebind en in ‘n hoek laat sit sodat sy nie kon sien hoe hulle haar man martel nie.

Die vrou se dogter, Lida, vertel aan NovaNews (Standard Breederivier Gazette se aanlyn nuusplatform) dat haar ma en stiefpa Sondag (30 Augustus) van Stilbaai onderweg was om iewers na blomme te gaan kyk. Die vrou wou nie haar van of haar ma en stiefpa se name bekend maak nie. Volgens haar het hulle (die bejaarde egpaar) op hul roete die betrokke dag besluit om in die gastehuis te oornag.

Lida sê volgens inligting het die boosdoeners – voordat hulle haar ma en stiefpa aangeval het – eers by ‘n paar onbewoonde gastehuise op die plaas ingebreek en onder meer messe gesteel het. Sy sê teen die tyd dat hulle by haar ma-hulle se gastehuis opgedaag het, het hulle presies geweet hoe die uitleg van die gastehuis lyk.

Lida sê die oomblik toe die inbrekers toegang tot haar ma-hulle se gastehuis gekry het, het hulle (die boosdoeners) onmiddellik al die ligte aangeskakel. Volgens haar het haar ma-hulle in daardie stadium reeds geslaap.

Volgens Lida het die booswigte haar ma vasgebind terwyl hulle haar stiefpa met stokke in die gesig en oor die kop aangerand het. Sy sê haar stiefpa is bewusteloos gelaat toe hulle hom probeer verwurg het.

“My ma se man is baie klein gebou. Hy is 75 jaar oud en nogal lig. Hy is nie ‘n sterk man nie. Hulle het geen rede gehad om hom aan te rand nie, want my ma-hulle sou in elk geval vir hulle alles gegee het waarna hulle gesoek het.”

Volgens Lida het die booswigte haar ma en stiefpa se tasse uitgegooi terwyl hulle na iets waardevols gesoek het. Sy sê hulle het voorts albei haar ma se trouringe – dié wat haar oorlede pa destyds aan haar ma se vinger gesteek het asook dié van haar huidige man – van haar vingers af geruk. Volgens Lida het die rowers laat spaander met onder meer die trouringe, selfone, haar ma se skootrekenaar en ‘n baadjie waarin hul motorsleutels was.

Lida sê kort voordat die aanvallers die pad gevat het, het hulle vir haar ma gesê hulle gaan terugkom. Volgens haar het haar getraumatiseerde ma daarin geslaag om haarself los te wikkel en in die middernagtelike ure 800m ver na die hoof-huis te hardloop om hulp te ontbied.

“My ma het die plaashuis se hek oopgestoot, maar die eienaar was nie tuis nie.” Volgens Lida het plaaswerkers, wat nie ver van die hoofhuis af nie woon, haar ma se hulpkrete gehoor en die plaaspatrollie ontbied. Sy sê haar stiefpa is met ‘n private motor na die Ceres- provinsiale hospitaal vervoer.

Lida sê haar stiefpa moes onder meer steke bo sy oog kry.

Volgens haar het hy ook beserings aan sy hande opgedoen soos hy probeer het om die houe af te weer. Haar ma se hande het ook seergekry toe die booswigte die trouringe afgeruk het.

“Vanoggend (31 Augustus) het my ma onthou die booswigte het nie haar tablet gevat het nie. Sy het toe per e-pos vir ons (haar vier kinders) ‘n boodskap gestuur waarin sy sê hulle is aangeval, maar is oukei en dat hulle in die Ceres- provinsiale hospitaal is. My broer het later die oggend (sewe-uur) eerste die boodskap gesien en my onmiddellik gebel.

“Ek het die eienaar gebel om uit te vind wat aangaan nadat my ma vir my die ligging van die plaas gestuur het.”

Volgens Lida is haar stiefpa later na ‘n private hospitaal oorgeplaas, waar skanderings gedoen is. Lida het gisteroggend aan Standard gesê: “Dit gaan goed onder die omstandighede. My ma ly defintief aan PTSD. Sy kon byvoorbeeld nie onthou dat ek die vorige oggend met haar gepraat het nie.” Sy sê haar stiefpa het nog baie pyn, maar die pynpille help. Volgens haar is haar ma en stiefpa terug in Stilbaai.

Die eienaar van die gasteplaas, Willie Naudé, sê: “Wat gebeur het, is baie ongelukkig. Ek het nooit kon dink dat so iets hier op die plaas sou gebeur nie.” Hy sê hy gaan die veiligheidsmaatreëls by die gasteplaas verder verskerp. Kapt. FC van Wyk, ‘n polisiewoord­voerder, sê die polisie ondersoek ‘n huis­roof-saak. Hy sê enigeen met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoekbeampte, speursers. C.D Abrahams, by 079 894 0195 te bel, die polisie se Stopmisdaadnommer by 08600 10111 te skakel, of ‘n anonieme wenk op die MySAPS-toepassing te laat.

• In Februarie vanjaar is ‘n bejaarde egpaar ook by ‘n idilliese blyplek buite Wolseley aangeval. Een van die slagoffers is aanhoudend met ‘n onbekende voorwerp oor die kop en in die gesig geslaan.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article