Die Wolseley-plaaswag werk nou saam met die polisie om die aanvallers aan te keer.

Planne in plek om aanvalle in Wolseley-omgewing te stuit


Die Wolseley-plaaswag en die plaaslike polisie is hard besig om aan strategieë te werk om verdere voorvalle van plaasaanvalle in die gebied hok te slaan.

Steven Matthews, voorsitter van die Wolseley-plaaswag, wou nie juis veel oor dié strategieë uitwei nie. Hy het wel ­genoem dat hulle twee hommeltuie aangeskaf het, wat deel van die verskerpte veiligheidsplan is.

Volgens hom werk die plaaswag in dié verband nou met die plaaslike polisie se landelike bevelvoerder saam. “Ons werk ook saam met ander private mense, patrolliehondgeleiers en polisiebeamptes van buite af.”

Groot beloning

Die plaaswag het intussen ‘n beloning van R20 000 uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming van diegene wat vir plaasaanvalle verantwoordelik is, sal lei. Matthews sê die beloning was aanvanklik R10 000, maar een van hul lede het ‘n ver­dere R10 000 bygevoeg.

Die beloning volg kort nadat ‘n bejaarde egpaar van onderskiedelik 75 en 67 jaar van Stilbaai op 30 Augustus in die gastehuis waarin hulle in die Wolseley-omgewing tuisgegaan het, oorrompel en beroof is.

Die 75-jarige man is deur paramedici bewusteloos aangetref nadat sy aanvallers hom eers met stokke aangerand en toe probeer verwurg het.

Volgens sers. Wesley Twigg, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, is niemand nog in verband met die aanval op die bejaarde egpaar in hegtenis geneem nie.

Vroeër gevalle

Die Wolseley-gemeenskap is in Maart 2021 geruk toe die lyk van Reneé Jain, Cape Union Mart se takbestuurder, in haar woning in die De Vierde Liefde-natuur­reservaat in Wolseley aangetref is.

Jain is aangerand en toe versmoor.

Die voormalige hofordonnans Maurice Arries asook Nolan Visagie, Anthony Schippers en Frederick Lottering word verdink van huisbraak met die opset om te roof, roof met verswarende omstandighede, sameswering om moord te pleeg, sameswering om te roof, roof en moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en aanklagte ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.

In ‘n afsonderlike voorval op 4 Augustus vanjaar het vier onbekende mans ‘n 55-jarige vrou in haar sitkamer op ‘n plaas in die Wolseley-omgewing aangeval. Haar hond is geslaan en gesteek toe die troeteldier die booswigte wou verwilder. Die vrou het in die aanval kopbeserings en ‘n besering aan haar linkeroog opgedoen.

In nog ‘n voorval – op 17 Maart vanjaar – het vier mans ‘n pasgetroude paartjie en familielede by hul vakansieblyplek, Riverstone House op ‘n plaas in die Wolseley-omgewing, aangeval en beroof.

Op 3 Februarie vanjaar is ‘n bejaarde egpaar wat op ‘n bloubessieplaas langs die R43 (Palmietvlei) tussen Wolseley en Worcester tuisgegaan het, deur boosdoeners geteiken.

Een van die bejaardes is aanhoudend met ‘n onbekende voorwerp oor die kop en in die gesig geslaan, nadat hulle oorrompel is.

Matthews sê die aanvalle op plase in die omgewing is gewis ‘n bron van kommer, onder meer omdat dit baie mense getraumatiseerd laat.

Simone Schlebusch, die bestuurder van Wolseley-toerisme, sê die plaaslike toerismebedryf is bewus van onlangse voorvalle wat met veiligheid in die gebied verband hou. Sy sê hulle begryp ​dat die betrokke voorvalle vrae by besoekers, toerisme-ondernemings en die plaaslike gemeenskap kan laat ontstaan.

Aandag aan toeriste-veiligheid

“Die veiligheid en welstand van besoekers bly vir Wolseley-toerisme en die breër toerismegemeenskap van groot belang. Ons is ingelig dat bykomende voorsorgmaatreëls by plase, verblyf­plekke en toerisme-ondernemings oor die gebied heen ingestel word.

“Besoekers word aangemoedig om direk by hul verblyfverskaffers navraag te doen oor enige reëlings wat spesifiek op die betrokke perseel van toepassing is.”

Schlebusch sê Wolseley-toerisme bly in kontak met betrokke veiligheidsvennote, waaronder die polisie, private veiligheidsmaatskappye en die Wolseley-plaaswag. Sy sê hierdie vennote monitor voortdurend die situasie en deel inligting waar toepaslik.

Volgens haar bly toerisme-ondernemings in Wolseley oop en verwelkom hulle steeds gaste.

Die gebied is tans gereed om besoekers vir die komende seisoen te ontvang, terwyl steeds op verdere ontwikkelings gelet word.

“Besoekers bly ‘n belangrike deel van die plaaslike gemeenskap en word aangemoedig om voort te gaan om direk met hul gashere en toerismeverskaffers vir die jongste inligting te skakel.

“Wolseley-toerisme sal voortgaan om ontwikkelings te volg, kontak met veiligheidsvennote te behou en verwante inligting met toerisme-ondernemings en besoekers te deel waar nodig.

“Ons sien daarna uit om besoekers in Wolseley te verwelkom en die gasvryheid van ons vallei met hulle te deel.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article