Villa se linkervleuel, Ruaan Adams, gaan druk een van sy span se 12 driee in Saterdag se kragmeting teen Alberts op Bolandpark. Foto: Dafiq Williams

Villagers-spanne slag Alberts in laaste Groot Uitdaag-liga

Villa se linkervleuel, Ruaan Adams, gaan druk een van sy span se 12 driee in Saterdag se kragmeting teen Alberts op Bolandpark. Foto: Dafiq Williams

Multisure Villagers (Villa) het die afgelope Saterdag (29 Augustus) in sy laaste liga-verpligting in die Langeberg-afdeling van die Groot Uitdaag-kompetisie van die Boland Rugby-unie se 2026-seisoen op Bolandpark in Worcester vir sy bure Alberts behoorlik gekarnuffel en met 80-21 verslaan, nadat Villa teen rustyd reeds met 35-7 voor was.

Met hierdie oorwinning is Alberts, wat vanjaar tot die Groot Uitdaagkompetisie bevorder is, ook uit die afdeling na die Streek Uitdaag-kompetisie gerelegeer.

Die wedstryd het op ‘n hoë noot vir die wenspan afgeskop toe Shaurick Blom (slot) na volgehoue druk oorbars en Jaydian Buys (heelagter) vir ‘n 7-0-voorsprong verdoel. Die telling groei aan na 14-0 toe die einste Buys pragtig by sy agterlyn aansluit en in die hoekie oorgaan. Hy verdoel ook sy eie drie.

Alberts kom hierna self met ‘n verbete aanslag en Pieter Verdoes (slot) gaan oor vir ‘n drie wat Charlton Jacobs (buitesen- ter) verdoel om die agterstand na 7-14 te laat krimp.

Villa se voorsprong rek weer toe Ruaan Adams (linkervleuel) in die hoekie oorgaan en Buys, wat nie sy skopskoene by die huis vergeet het nie, weer skitterend verdoel.

Dit reën drieë op Bolandpark

Die voorsprong rek verder toe Jubalian Titus (agsteman) na ‘n verwoede aanslag oorgaan en Buys weer suksesvol met die doelskop is. Die telling groei aan na 35-7 teen rustyd toe Josh September (binnesen- ter) skitterend breek. Toe hy voorgekeer word, was Thinus Saayman (skrumskakel) by om af te rond. Met Buys wat weer verdoel, gaan drink die twee spanne water met Villa wat met 35-7 voorloop.

Kort na die aanvang van die tweede helfte slaan Villa weer toe met Zaydon Adams (flank) wat hierdie keer oorgaan en Buys wat weereens verdoel om die telling na 42-7 te rek.

Alberts gee nooit bes nie en antwoord self met ‘n sewepunter toe Verdoes vir sy tweede drie oorgaan en Jacobs verdoel om die agterstand na 14-42 te laat krimp.

Jivanno Melouw (regtervleuel) gaan hierna oor vir Villa vir ‘n onvervyfde drie om die telling op 47-14 te staan te bring. Hierna gaan Agmat Adams (plaasvervanger-haker) vir sy drie oor en met Buys se geslaagde doelskop rek die telling na 54-14. Saayman gaan hierna oor vir sy tweede drie en met Buys wat weer verdoel, rek die voorsprong na 61-14.

Bevan Melapi (flank) gaan hierna oor ná ‘n lopie van amper 60 m en met Buys wat verdoel, groei die telling aan na 68-14.

Alberts gooi nooit handdoek in nie en word beloon toe Gabriel Botman (flank) oorgaan en Jacobs weer verdoel om die agterstand na 21-68 te laat krimp.

Phillip Basson (plaasvervanger-vleuel) gaan druk hierna ‘n onvervyfde drie en volg kort hierna op met nog ‘n drie wat Buys hierdie keer verdoel om die eindtelling 80-21 te maak.

In die hoofvoorwedstryd klop Villa se naasbestes sy eweknie met 45-0 en word as Langeberg se kampioenspan gekroon, terwyl Villa se derdespan dit drie in ‘n ry maak en ook as Langeberg se kampioen gekroon word toe hy Alberts se derdespan met 34-10 klop.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article