‘n Sestienjarige seun van Worcester is as die nuwe nasionale Stock Car-kampioen gekroon nadat hy die afgelope naweek eerste in die 1600 Stock Saloons-kategorie op die Suid-Afrikaanse Nasionale Stock Cars-kampioenskap, wat op 28 en 29 Augustus in Bloemfontein plaasgevind het, geëindig het.
‘n Beskeie Wemer van der Merwe (16), ‘n gr.10-leerder by HTS Drostdy, sê hy het regtig nie verwag om te wen nie, veral omdat hy in die eindronde derde weggetrek het. Volgens hom het hy in sy kategorie teen altesaam 15 deelnemers van reg oor die land meegeding.
Wemer sê hy was aanvanklik ‘n bietjie skrikkerig omdat hy onder meer glad nie vertroud was met die baan waarop hulle gery het nie. Volgens hom is die betrokke baan heelwat korter as dit waaraan hy gewoond is. Hy het egter hierdie uitdaging blitsvinnig onder die knie gekry.
Ná sy oorwinning het hy die ZA1 ontvang – ‘n gesogte nommer wat deur Suid-Afrikaanse motorsportbeheerliggame toegeken word. ZA1 beteken die huidige nasionale kampioen.
Wemer sê die stockcar-gogga het hom reeds as jong kind gebyt, nadat hy gereeld saam met sy pa, Wemer (sr.), kompetisies van dié aard bygewoon het. Hy was maar sewe jaar oud toe hy agter die stuurwiel van ‘n Ninja Midget ingeskuif het. Hy sê op die ouderdom van 13-jaar het hy agter die stuur van ‘n Golf 14 000 geklim. Vanjaar is sy tweede seisoen by die Weskus Oval Klub.

Benewens sy groot oorwinning die afgelope naweek in Bloemfontein, het hy vroeër vanjaar eerste in ‘n Stock Car-kompetisie by die jaarlikse Snoek-en-Patatfees in Goedverwacht geëindig. Hy het vanjaar ook eerste geëindig in die Wynland-kampioenskap wat op Kleinplasie in Worcester plaasgevind het.
“Ek wou verlede jaar al aan die SA’s deelgeneem het, maar my ouers het gevoel ek kort nog meer oefening. Dit was nog altyd my droom om in die SA’s te ry. Ek sal eendag graag pro wil gaan in die stock cars en oorsee gaan ry.”
Wemer se mentor en borg, Kosie Weyers, het reeds 24 SA Kampioenskaptitels op sy kerfstok en prys Wemer.
“Wemer het die afgelope naweek tydens die nasionale kampioenskap mooi kop gehou. Hy was koel, kalm, beheersd en het baie slim gery. Hy het uit die moeilikheid gebly en gedoen wat hy moes. Hy het vanaf die derde plek gewen, met al die vinnigste karre voor hom, wat die hoogtepunt van die naweek was.
“Vir sy ouderdom om ‘n prestasie soos hierdie te bereik, is fenominaal. Daar is baie min mense wat op sy ouderdom al ‘n SA1-titel gewen het. Hy het baie volwasse bestuur,” sê Weyers.




You must be logged in to post a comment.