Villa se vasskopstut, Lincoln Johnson, breek weg met die bal met Town se kaptein en slot, Jermaine Arendse (5), en stut Eugene Arendse (3) gereed om hom te stuit. Foto: Franco du Toit

Robertson Town neem voortou na hulle Villa looi met 28-24

Villa se vasskopstut, Lincoln Johnson, breek weg met die bal met Town se kaptein en slot, Jermaine Arendse (5), en stut Eugene Arendse (3) gereed om hom te stuit. Foto: Franco du Toit

Robertson Town, die 2025-­ streek­kampioen, het Saterdag (8 Augustus) in die Callie de Wetstadion in Robertson opnuut beklemtoon dat hy nie sommer afgeskryf kan word nie – Town het die voorlopers, Multisure Villagers (Villa) in ‘n titaniese stryd met 28-24 die loef afgesteek nadat hulle teen rustyd reeds 15-5 voor was.

Met hierdie oorwinning het Town nou weer die voortou geneem. Hoewel hy en Villa albei met nog net drie wedstryde oor elk 81 punte het, is Town bo-aan die punteleer vanweë ‘n groter punteverskil.

Die wedstryd self, wat voor ‘n reuse-­skare rugbygeesdriftiges gespeel is, het op ‘n hoë noot vir die tuisspan begin toe sy losskakel, Collin Willemse, met ‘n redelik maklike strafskop geslaag het. Villa het hierna ook geleentheid gehad om sake gelyk te maak, maar sy losska­kel, Mouries Farao, se strafskop van nagenoeg 40m en boonop redelik skuins, is links verby.

Town het hierna ‘n sewepunter gekry toe sy haker, Abdulla-Oef Gallie, ná ‘n dryfmaal-beweging oorgebars en Willemse verdoel het om sy span 10-0 te laat voorloop. Die telling het kort hierna aangegroei na 15-0 toe sy linkervleuel, ­Navan­ Padiachy, vir ‘n onvervyfde drie oorgegaan het.

Villa het kort hierna sy telbord aan die rol gekry toe sy haker, O’Ryan Jack, oor is nadat hulle ook met ‘n soortgelyke dryfmaal-beweging oor is. Farao se doelskop het ongelukkig die regoppaal getref en links verbygespat.

Kort ná rustyd het Town sy voorsprong gerek toe Willemse met nog ‘n strafskop slaag nadat Villa se vaskop­stut, Lincoln Johnson, deur die skeidsregter, Gabriel Mars van Witzenberg, met ‘n geelkaart koelkas toe gestuur is en Villa boonop nog ‘n speler moes prysgee om ‘n plaasvervangerstut te kon opstuur.

Hope karakter

Villa het egter hope karakter getoon toe sy slot Shaurick Blom oor is vir ‘n drie en Farao verdoel het om die agterstand na 12-18 te laat krimp. Town het egter weer hul voorsprong gerek toe hul slot en kaptein, Jermaine Arendse, oor is vir ‘n drie en Willemse verdoel het om 25-12 voor te loop.

Villa het egter weer punte gekry toe sy heelagter, Jivanno Melouw, in die hoekie oor is vir ‘n drie wat die plaas­vervanger-losskakel Elton Mfundisi ongelukkig nie kon verdoel nie.

Villa het met ‘n verbete aanslag opgekom, wat op sy bonuspunt-drie uitgeloop het nadat sy plaasvervangerstut Irwin Melapi met brute krag oorgebars en Mfundisi boonop pragtig uit die hoekie verdoel het om die agterstand na 24-25 te laat krimp.

Willemse het kort hierna met nog ‘n strafskop geslaag om die sege vir Town te verseker.

In ‘n spanningvolle hoof-voorwedstryd het Villa se naasbestes Robertson Town se naasbestes 31-28 geklop, terwyl Villa se derdes ook bo was nadat hulle Town se derdes 33-17 getroef het.

• Eerskomende Saterdag (15 Augustus) is dit weer derbytyd wanneer Multisure Villagers teen sy bure Young Hamiltons op Bolandparkstadion in Worcester te staan kom, terwyl Robertson Town die onvoorspelbare Blue Birds in Bonnievale die stryd moet gaan aansê.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article