Tien jaar gelede is hulle ‘n nuwe skoolgebou belowe, maar tot vandag is die eerste sooi nog nie gespit nie.
Volgens Danny September van die Langeberg Independent Party is die skoolgebou van Langeberg Senior Sekondêre Skool in Robertson besig om te verval. Hy het strukturele skade aan die skoolgebou, waaronder beskadigde traprelings – wat ‘n veiligheidsrisiko inhou – en ‘n vervalle loopvlak op die eerste verdieping van die N-blok uitgewys.
September sê die skool het tans 1 800 leerders, terwyl dit die vermoë vir tussen 800 en 900 leerders het. Hy sê as gevolg van dié oorskot sit onderwysers met oorvol klasse. Volgens hom belemmer die aantal leerders gehalte-onderrig en dit maak dit vir onderwysers moeilik om dissipline te handhaaf.
September sê asof dit nie reeds erg genoeg is nie, raak die leerdertal by die skool elke jaar net meer.
Hy sê ‘n groot deel van die skool is met “harde karton” gebou. Volgens hom gee dit daartoe aanleiding dat die hitte in die klaskamers in die somer onuithoudbaar is, terwyl dit in die winter baie koud in die klaskamers is.
“Ons is tien jaar gelede belowe die skool gaan oorgebou word, maar daar het dadels van gekom. Die gemeenskap eis antwoorde.”
Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê sulke instandhoudingsake moet as noodgevalle op die departement se Inligtingstelsel vir skoolonderwysbestuur (Semis) aangemeld word, waar dit deur die departement se nood-instandhoudingspan beoordeel en hanteer word.
Bewerings onakkuraat
Volgens haar is die bewering dat die skool van “karton” gebou is, onakkuraat en misleidend.
“Die skoolterrein bestaan uit verskeie vrystaande geboue, wat van ‘n verskeidenheid materiale gebou is. Sommige geboue is konvensionele messelwerkstrukture, terwyl die dubbelverdiepinggebou ‘n struktuur van versterkte betonraam en baksteen-invulmure is.
“Sekere klaskamerblokke is gebou met behulp van houtraamtegnologie en beklee met gipsveselbord; dit is ‘n goedgekeurde boumetode en behoort nie as kartonkonstruksie beskryf te word nie.” Volgens Hammond het die departement Langeberg Senior Sekondêre Skool geïdentifiseer as ‘n skool wat moontlik in die toekoms opknapping sal benodig.
“Die departement weet van die bekommernisse wat deur die skool geopper is en moedig die aanmelding van enige spesifieke instandhoudings- of veiligheidskwessies via die WKOD se Semis-platform aan, sodat dit behoorlik beoordeel en opgelos kan word.”
Hammond sê die gedeeltelike vervanging of opknapping van die skool is tans nie by die WKOD se mediumtermyn-infrastruktuurprogram ingesluit nie.
Sy sê infrastruktuurprojekte word binne beskikbare begrotings geprioritiseer en moet opgeweeg word teen mededingende behoeftes reg oor die provinsie.
Volgens haar is geen tydskale of kosteberamings tans goedgekeur om aan te kondig met betrekking tot die bou van ‘n nuwe skoolgebou of groot opknappingsprojek by Langeberg Senior Sekondêre Skool nie. Hammond sê die rekords van die departement dui daarop dat die huidige skool-infrastruktuur sowat 1 800 leerders kan akkommodeer.
Volgens haar staan die huidige leerdergetal op 1 625 en val dit dus binne die skool se vermoë. Volgens haar monitor die departement voortdurend inskrywingstendense en beskikbare kapasiteit in die gebied en oorweeg gepaste intervensies waar nodig. “Die WKOD kan nie uitlatings verifieer oor verbintenisse wat glo langer as ‘n dekade gelede gemaak is nie.”




