Terwyl sy ma met hom swanger was, het medici vasgestel sy het kanker van die baarmoeder. As gevolg van haar siektetoestand moes hy noodgedwonge uit haar baarmoeder verwyder word. Hy was blakend gesond.
Maar Saterdag (8 Augustus) – 17 dae voor sy 16de verjaarsdag – is die 15-jarige Delano van der Horst van die plaas Houverby in die Scherpenheuvel-distrik buite Worcester se lewe tragies kortgeknip toe hy op pad na ‘n rugbywedstryd voorgelê en met ‘n okapi-mes doodgesteek is.
Delano was sy oorlede ma, Lettie van der Horst (55), en pa, Dennis (54), se laatlam.
Sy (Delano se) suster Nicole van der Horst (28) het aan Standard Breederivier Gazette vertel haar mansvriend, Andries de Bruyn (34), het Saterdag omstreeks 14:00 afgesit om ‘n rugbywedstryd nie ver van waar hulle woon nie, te gaan bywoon.
Volgens haar het Delano aangedui hy wil ook die wedstryd bywoon. Sy sê nadat Delano hom gewas het, is hy ook na die rugbywedstryd. Nicole sê ‘n ooggetuie het haar later na die rugbyveld gehaas en De Bruyn meegedeel Delano is gesteek.
Bloedspoor
Volgens Nicole het De Bruyn na die toneel afgesit. ‘n Bloedspoor van die Scherpenheuvel-pad tot by nabygeleë bossies het hom tot by ‘n bebloede Delano gelei.
Nicole sê sy het haarself boeglam geskrik toe De Bruyn uitasem by die huis aangehardloop kom en haar die skoknuus gee dat Delano gesteek is.
Volgens Nicole het sy en nog ander mense hulle onmiddellik na die toneel gehaas.
Toe hulle by die toneel aankom, het Delano nog gelewe. Hy het op sy sy gelê. Volgens Nicole het die bloed uit haar broer se arm gespuit.
“Delano wou nie stil lê nie. Hy het die heeltyd aangegaan en gesê dis seer. Hy het ook aanhoudend gesê ‘My ma kom haal my, dis seer. Ek gaan dit nie maak nie. My ma gaan my nou kom haal’.”
Volgens Nicole was Delano ‘n jaar oud toe hul ma aan kanker oorlede is.
“Ek het hom die heeltyd gevra om stil te lê omdat hy besig was om baie bloed te verloor. Hy was bleek en het ge-panic. Hy het later opgebring.
“Ek het hom gevra wie hom gesteek het, toe gee hy my die klong se naam. Ek het hom ook gevra of die klong alleen was, want hy het ‘n klomp messteekhoue oor sy bors gehad. In sy gesig was ook ‘n hou.
“Delano het vir my gesê hy het die klong probeer terugslaan, maar hy [sy aanvaller] het hom te veel gesteek.”
Nicole sê kort nadat hul swanger suster Christelle van der Horst (23) by die toneel aangekom het, het Delano sy laaste asem uitgeblaas.
Voorgelê
Nicole sê soos sy verstaan, het Delano en sy aanvaller glo die vorige naweek gestry en hy het Delano Saterdag blykbaar op die roete na die rugbywedstryd voorgelê.
Volgens Nicole moes Delano – toe hul ma met hom ses maande swanger was – uit haar baarmoeder verwyder word sodat haar kankerbehandeling kon begin. “Hy was ‘n klein mensie. Hy kon in ‘n skoenboks pas.”
Delano word oorleef deur sy pa, Dennis, drie susters en twee broers.
• Volgens Ndakhe Gwala, ‘n polisiewoordvoerder, het die polisie in Worcester ‘n moordsaak geregistreer ná ‘n voorval waar iemand op Saterdag (8 Augustus) in Scherpenheuvel met ‘n mes gesteek is.
Gwala sê volgens berigte is ‘n 15-jarige seun tydens ‘n rusie met die verdagte met ‘n mes gesteek. Mediese personeel het die slagoffer op die toneel dood verklaar.
Volgens Gwala is ‘n verdagte reeds in verband met die voorval in hegtenis geneem. Die verdagte sou na verwagting Dinsdag (11 Augustus) in die Worcester-landdroshof verskyn het.



