Maria van der Westhuizen, een van die tuinboukundiges wat na die reuse-kokerboom omsien.

Rare kokerboom in botaniese tuin vir siekte behandel


‘n Reuse-kokerboom in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin in Worcester kry behandeling nadat tuinboukundiges opgemerk het dat dié kritiekbedreigde kokerboom tekens van kanker toon.

Dié plant is een van net vyf in die botaniese tuin wat jare gelede aangeplant is om die bewaring van die plante te verseker. Die reuse-kokerboom (Aloidendron pilansii) is die skaarste van al die boomaalwyne en kom in die geharde landskappe van die Noord-Kaap en suidelike Namibië voor.

Maria van der Westhuizen, een van die tuinboukundiges wat na die plant omsien, vertel dat die boomaalwyne in die tuine aangeplant is sodat hulle kan vermeerder. “Ons het gesien dat van die plant se blare tekens van kanker toon – dit maak ‘n tipiese patroontjie wat amper soos tande lyk. Ons het dit begin behandel deur van die blare uit te sny, en op die oorblywendes ‘n pasta van Karbadust aan te smeer. Bloekomolie word ook gebruik om die myte, wat die kanker veroorsaak, af te skrik en bykomende voeding word toegedien. Gelukkig is die probleem nog nie in die kroon van die kokerboom nie, so ons hoop dat ons dit sal kan red,” sê sy.

Reuse-kokerbome word gereeld deur siektes soos aalwynkanker, wortelvrot en roes geknou. Daar moet onmiddellik opgetree word om te verhoed dat dit na ander plante versprei.

Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Biodiversiteit het die reuse-kokerboom se getalle die afgelope twee dekades drasties afgeneem weens droogtes en die onwettige oes vir die vetplantmark. Weens droogte het vee en wildediere ook noodgedwonge aan die plante begin vreet.

Die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin vra inwoners wat belangstel om as vrywilligers betrokke te raak om hulle te kontak. Stuur e-pos na karoo-desert-nbg@sanbi.org.za vir nog inligting.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article