Waar eens ‘n vaal bedding gestaan het, is daar nou meer as net ‘n helder spatsel kleur.
Dit is die flukse handewerk van Worcester Plantjies, ‘n groep vrywillige tuin-entoesiaste wat beddings in openbare plekke in Worcester laat blom.
Wat ‘n aantal jare gelede begin het as ‘n WhatsApp-groep met ‘n paar vroue wat ‘n passie vir tuinmaak gedeel het, het gegroei na ‘n groep mense wat verskeie mooimaak-projekte in die dorp aanpak.
Een van hul jongste projekte was die tuin voor die brandweerstasie in Rouxweg. Dié bedding gaan nou die komende somer gretig tegemoet met helder Namakwalandse daisies wat tussen gazanias, Worcester-vygies, aalwyne en broodbome staan en blom.
“Die idee met die rooi, oranje en geel kleure van die blomme is om vuur te simboliseer, so voor die brandweerstasie. Dit is by die ingang na die dorp met baie besoekers wat hier verby ry,” sê Angeluque Morkel, die sameroeper van die tuiniers.
“Dit was voorheen ‘n pragtige roostuin gewees, met ‘n vorige brandweerhoof wat baie lief was vir rose en dit goed versorg het,” sê sy. Die laaste ruk is die bedding egter verwaarloos. “Ons het met die brandweer en munisipaliteit gaan gesels en hulle was gretig om ons te help.”
Plaaslike besighede ondersteun
Daar is besproeiing ingesit, klippe gepak en kompos ingery. Geldinsamelings is gehou, inwoners het skenkings gemaak en Morkel het die daisies se saad langs die treinspoor, waar die blomme elke jaar welig groei, ge-oes. Die res het die vrywilligers uit hul sakke betaal. “Ons probeer om so ver moontlik plaaslike besighede te ondersteun.”
Die brandweer se ingangsportaal is ook mooi gemaak en die bankies is geverf.
Worcester Plantjies onderhou ook ‘n deel van die middelman in Rouxweg. Van die rose wat hier geplant is, is afkomstig van steggies wat die vrywilligers uit hul tuine gemaak het.
Die roosbeddings in die res van die middelman word deur die Africa Biomass Company onderhou. Dié deel was eens ‘n probleem, met bosslapers wat hulself tuisgemaak en vullis wat rondgelê het.
Hul volgende projek is die mooimaak van die rotsbeddings voor die munisipale swembad oorkant die brandweerstasie. Een van die grootste uitgawes is arbeid.
Belangstellendes wat hierby betrokke wil raak, kan vir Morkel by 076 619 4426 vir nog inligting skakel.
Inwoners kan ook help deur die groep se geldinsamelings te ondersteun. Plante wat die tuiniers self gekweek het, asook saad, word teen lae pryse verkoop. Die groep het ook ‘n stalletjie by die Groen Stoor-mark. Ondernemings wat beddings wil borg en in ruil daarvoor ‘n advertensiebord oprig, is ook welkom.





