Inwoners van Touwsrivier is vasberade om te verseker dat dié geskiedkundige dorp se erfenis behoue bly. Diewe en verwaarlosing het reeds derduisende rande se skade aan historiese geboue wat geplunder is, aangerig.
Die Ontspanningsklub, wat ‘n raadsaal, kantore, ‘n kafee, kroeg en ‘n bioskoopsaal insluit, is jare gelede gebou om die groot werksmag, wat vanweë die spoorlyn in Touwsrivier gevestig was, te bedien. Jare lange inwoners onthou die goed versorgde geboue en groen grasperke waar die gemeenskap dekades lank byeengekom het vir troues, konserte en vergaderings. Daar is ook ‘n Delville Wood-gedenkteken met die name van Touwsrivier-mans wat in die Eerste Wêreldoorlog (1914 – 1918) dood is. Die minister van vervoer het in 1958 ook ‘n gedenksteen gelê om erkenning te gee aan die dorp se belangrike rol. Inwoners sê die dorp het nie ‘n ander gebou wat as gemeenskapsentrum kan dien nie.
Dié geboue, wat aan Transnet behoort, het egter in onbruik verval en diewe het die geboue gestroop.

Volgens Christiaan du Plessis van die Touwsrivier Toerisme-vereniging is ‘n groep inwoners in gesprek met alle moontlike partye wat kan help om dié geboue te red en weer bruikbaar te maak.
Die groep het Maandag (10 November) met die Breedevallei-munisipaliteit vergader – onder meer oor die oprigting van veiligheidskameras. Hulle was ook in gesprek met Transnet oor die toekoms van die geboue. “Erfenis Wes-Kaap het gesê hulle sal ons help om dit as ‘n erfenisgebied te registreer,” het Du Plessis gesê.
Die groep werk ook nou saam met die buurtwag en die polisie.
‘n Aanlyn petisie “Save the Touwsrivier Ontspanningsklub and Protect Our Town’s Heritage” is op die webwerf Change.org geskep, waar ondersteuners hul naam by dié van inwoners kan voeg en ‘n sken-king kan doen om die bewaring te ondersteun.
Die inwoners vind dit frustrerend omdat die geboue al meer verniel word en geen oplossings al gevind is nie.
Geskiedenis
Touwsrivier se ontstaan is ten nouste verweef met die spoorlyn wat die Cape Government Railways in 1875 aangelê het om as roete na die nuut-ontdekte diamantvelde by Kimberley te dien. Die klein stasie, waar die spoorlyn oor die Touwsrivier loop, is in 1883 na die Touwsrivier-stasie herdoop. Dié stasie het ‘n belangrike rol gespeel om stoomlokomotiewe te ruil nadat hulle die uitdagende Hexrivierpas uitgeklim het. Van 1924 het Touwsrivier ook as die aansluiting gedien vir lyne na Ladismith en die Klein Karoo.
Volgens die webwerf www.karoo-southafrica.com was die sluiting van die Ladismith-taklyn in 1981 en die opening van die Hexriviertonnel, wat die gradiënt verminder het waarteen treine tussen die Hexriviervallei en Touwsrivier gereis het, nadelig vir Touwsrivier se ontwikkleing en het die dorp begin agteruitgaan.
Een van die dorp se grootste uitdagings is die enorme werkloosheid. ‘n Onderneming wat treinwaens herstel het en die grootste werkgewer op die dorp was, se deure het ook gesluit en die gemeenskap steun swaar op werksgeleenthede wat verskaf word deur toerisme, soos by Aquila en Inverdoorns-natuur-reservate en seisoenale werk in landbou. Onafhanklike kragverskaffers, soos by die wind- en sonplase wat in die omgewing opgerig word, bied ook al meer werksgeleenthede.
In reaksie op navrae oor die ontspanningsentrum het Transnet Property gesê hulle is in gesprek met moontlike huurders en kyk na langtermyn-planne vir die eiendom, sodat dit die gemeenskap weer op ‘n betekenisvolle manier kan dien.
“Transnet Property werk saam met die polisie en die buurtwag om die veiligheid om die gebou op te knap. Die polisie het onderneem om patrollering van die eiendom ‘n prioriteit te maak – in samewerking met die gemeenskap – en die aanhoudende diefstal is reeds aangepak.
“Transnet kyk ook na opsies om weer veiligheidsdienste op die perseel aan te stel en veiligheidskameras te installeer, afhangende of ons begroting dit toelaat,” het hul reaksie gelui. Hulle sê hulle het kennis geneem daarvan dat inwoners hoop die Jubilee-saal kan in die toekoms in ‘n museum omgeskep word.
• Standard het teen spertyd nog nie reaksie op navrae van die Breedevallei-munisipaliteit ontvang nie.


