Terwyl hy oor die reëling van die Nekkiesbrug getrek het en besig was om sowat 100m ver na onder te val, was hy daarvan oortuig sy einde het aangebreek.

Só sê Diego Rossouw (22), ‘n sokkerspeler van die Double Foot Shooters-sokkerklub in Worcester, die week aan Standard Breederivier Gazette ná sy noue ontkoming Sondagmiddag (3 Mei) toe die bakkie waarmee hy en sy spanmaats en drie sokker-bestuurslede na Brandvlei gereis het, op die Nekkiesbrug buite Worcester gerol het.

Rossouw het sy laerug in die ongeluk beseer en skraapmerke aan sy arms en bene opgedoen. Hy is later dieselfde dag uit die hospitaal ontslaan.

“Toe ek so deur die lug trek, toe dink ek hier is dit nou verby met my. Ek gaan nou sterf. Ek het gedink ek gaan op harde rotse val, maar toe beland ek in die water. Die water het my lewe gered. Dit was ‘n wonderwerk. Toe ek in die water val, toe swem ek onmiddellik na ‘n veilige plek.

“Ek het besef ek is allright. Ek lewe nog. Ek het daar waar ek onder die brug gestaan het die Hemelse Vader bedank en vir my spanmaats en die bestuurslede wat saam met my in die ongeluk was, gebid.

“Ek het myself die heeltyd afgevra ‘het dit nou regtig gebeur’? Alles is nog so onwerklik.”

Minute nadat Rossouw in die rivier geval het, het ‘n 27-jarige web-ontwerper van Brackenfell, wat verkies om anoniem te bly, hom te hulp gesnel. Rossouw se held vertel dat hy kort voor die ongeluk besig was om met sy bootjie in die betrokke rivier te hengel. Hy sê hy was in daardie stadium sowat 100 meter weg van die brug waarop die bakkie gerol het.

Hy sê omstreeks 12:30 het hy ‘n groot slag gehoor. “Toe ek omkyk, toe sien ek ‘n bakkie op die brug wat besig was om te rol. Terwyl die bakkie nog so rol, toe sien ek hoe iemand (Rossouw) oor die brug se reling trek en binne-in die rivier val. Ek het onmiddellik met my boot tot by die plek gegaan waar die persoon in die water geval het.”

Hy sê toe hy by Rossouw aankom, toe staan hy (Rossouw) reeds op die voetstuk van een van die brug se pilare. Volgens hom was Rossouw, wat in daardie stadium aan erge skok gelei het, deurdrenk van die water. Die dapper man sê hy het uit sy boot geklim en Rossouw deur die water tot by die rivier-oewer wat sowat twee meter verder was, gehelp.

Volgens hom was die rivierstroom onder die brug baie sterk en was die water heuphoogte.

“Die man (Rossouw) het verskriklik baie gebewe. Toe ons by die rivier-oewer aankom, het ek twee van my truie gegryp en dit vir hom aangetrek. Hy wou die heeltyd weet of die ander passasiers oukei is. Hy het ook die heeltyd gekla van sy rug, arm en been wat seer is. Ek het sowat ‘n uur by hom gewaak totdat hulp uiteindelik opgedaag het.”

Volgens die man het die reddingspan aan die teenoorgestelde kant van die rivier-oewer gestaan. Hy vertel dat hy alleen in sy boot tot by hulle gevaar het. Nadat daar ‘n tou aan sy boot vasgemaak is, het hy terug tot by Rossouw gevaar, terwyl ‘n reddingswerker hom agtervolg het deur agter sy boot aan te swem.

“Ek en die reddingswerker het die man (Rossouw) toe in my boot gelaai. Die span wat op die oewer gestaan het, het die boot met die tou getrek terwyl ek en die reddingswerker agter die boot geswem en dit in die hul rigting gestuur het. Die rivierstroom was baie sterk en daar waar ons geswem het, was dit nogal diep. Toe ons by die oewer kom, het nooddienspersoneel oorgeneem.”

Pieter Verhoog, voorsitter van Double Foot Shooters-sokkerklub, vertel dat die spelers ten tyde van die ongeluk op pad was na Brandvlei waar hulle in die Promosieliga sou speel.

Volgens hom het die bestuurder van die minibus-taxi wat die spelers aanvanklik na Brandvlei sou vervoer het, die betrokke dag vasgedraai. Hy sê dis toe dat hy sy dubbelkajuit-bakkie aan hulle beskikbaar gestel het. Volgens Verhoog het 11 van die spelers agter op die oop bakkie gesit terwyl die ander twee spelers voor in die bakkie saam met die drie bestuurslede gesit het.

“Soos ek verneem het die bestuurder beheer verloor toe die wind die bakkie op die brug begin ruk het. Toe ek by die toneel aankom, kon ek sien die manne het baie pyn. Paramedici het hulle op die toneel gestabiliseer.”

Volgens Verhoog gaan die spelers vir die volgende twee maande buite aksie wees.

Rossouw gaan verder deur te sê dat hy maar sukkel om te slaap omdat hy gereeld terugflitse van die ongeluk kry.

“Ek sal nie gou weer oor daai brug ry nie. Ek moet eers herstel van alles. Ek moet nog berading ook ontvang.”

Rossouw bedank almal wat hom, sy spanmaats en bestuurslede gehelp het.

Volgens Thembakazi Mpendukana, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het die polisie ‘n dossier van roekelose en of nalatige bestuur geregistreer.

bakkie met sokkerspelers
Die ongelukstoneel Sondagmiddag op die Nekkiesbrug toe ‘n bakkie wat sokkerspelers vervoer het, omgeslaan het.

Intussen het rugbyspelers van Villagers Montagu Dinsdagaand (5 Mei) ‘n dankseggingsdiens op die King Edward- sportterrein gehou ná ‘n noue ontkoming Saterdagaand (2 Mei) toe die bus waarin die klub se eerstepan-spelers gereis het se remme op pad terug na Montagu onklaar geraak het.

Al die insittende is ongedeerd.

Stanley Burger, voorsitter van Villagers Montagu, sê sy spelers was vroeër die dag in ‘n kragmeting met Progress gewikkel. Die wedstryd het in Suurbraak net buite Swellendam plaasgevind.

Hy sê na afloop van die wedstryd en kort voor die bus vertrek het, het die spelers, ander klublede en ondersteuners van Villagers Montagu op die veld bymekaargekom om die span se oorwinning van 39 – 27 teen Progress te vier.

“Ons het gebid, die Here geloof en Hom gevra vir Sy genade en beskerming oor ons mense wat na afloop van die wedstryd weer in die pad moes val. Toe gebeur hierdie ding nou.”

Burger sê op die pad tussen Swellendam en Ashton naby Leeufontein het die bus se remme onklaar geraak. Volgens hom het die busbestuurder kop gehou en die bus in bosse langs die pad tot stilstand gebring.

“Ons is doodseker dat die Here sy Hand oor ons spelers in die bus gehou het. Dit kon baie lelik uitgedraai het.”

bus met rugbyspelers
Die toneel Saterdagaand nadat ‘n bus wat rugbyspelers van Villagers Montagu vervoer het se remme naby Leeufontein onklaar geraak het. Die busbestuurder kon daarin slaag om die bus tussen bosse tot stilstand te dwing.

Burger sê kort nadat een van die spelers hom gebel en meegedeel het wat gebeur het, het hy onmiddellik met die betrokke busmaatskappy in verbing getree. Volgens hom het die busmaatskappy dadelik ‘n ander bus uitgestuur om die spelers op te laai.

“Ons as Villagers-klub hou niks teen die busmaatskappy nie. Hierdie was uit en uit net ‘n ongeluk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article