Die Villagers Montagu-rugbyklub, of Sesduim, soos hy algemeen bekend staan en wat verlede jaar (2025) uit die Grootuitdaagbekerkompetisie na die Streekuitdaagliga van die Boland rugby-unie gerelegeer is, beleef tans ‘n uitstekende seisoen in dié liga.
Sesduim het tot nou alle teenstand platgevee en is met net drie oorblywende ligawedstryde in dié kompetisie steeds onoorwonne.
Hy het die afgelope Saterdag (15 Augustus) ná ‘n taai stryd op die Buffeljagsrivier-sportterrein met die gasheer, Buffaloes RVK, of net Buffies vir sy ondersteuners, klaargespeel.
Die eindtelling was 24-22 in Sesduim se guns.
Die besoekers het in die eerste helfte die botoon gevoer en met waterdrinktyd gemaklik 21-8 voorgeloop.
Ná rustyd het die tuisspan die veld egter met nuwe vuur betree, terwyl die besoekers ‘n insinking in hul spel ondervind het.
Buffies het ‘n indrukwekkende terugvegpoging van stapel gestuur. Sy begeesterde spel het vrugte afgewerp en hom in staat gestel om in ‘n stadium die voortou met 22-21 te neem.
Sesduim het egter nie gaan lê nie en hard terugbaklei om weer die leisels ná ‘n strafdoel deur die losskakel, Mervin van der Ross, oor te neem.
Villagers Montagu het enduit aan sy geringe voorsprong geklou en die kragmeting uiteindelik 24-22 beklink.




