‘Nou vir 2027!’ – Villagers Montagu kraai koning as Langeberg-kampioen

Helgard Bruwer, die agsteman van Villagers Montagu (Sesduim), gee die bal aan vir sy spanmaat, Asisipho Jucwa (flank), terwyl Nigel Matjan, die skrumskakel van Barrydale Flying Eagles, die bal probeer onderskep. Dit was in dié twee spanne se laaste tweederondeligawedstryd in die Langebergstreekuitdaagkompetisie. Sesduim, wat reeds voor dié wedstryd as die Langeberg-streekuitdaagkampioen gekwalifiseer het, het die kragmeting oortuigend met 50-27 gewen. Foto: Norman Evertson

MONTAGU – Die Villagers Montagu-rugbyklub, oftewel Sesduim, is die afgelope Saterdag (5 September) ná sy laaste ligaverpligting teen die Barrydale Flying Eagles as die 2026-Langeberg-streekuitdaagkampioen aangewys.

Trouens – Sesduim, wat ‘n fenomenale rugbyseisoen in die streekuitdaagkompetisie in die Langebergstreek beleef het, het reeds voor sy laaste tweederondekragmeting met Flying Eagles as die Langeberg-streekuitdaagkampioen gekwalifiseer.

Sesduim kom nou teen Protea RVK van De Doorns, of Prouks, soos hy alombekend is, in ‘n promosiewedstryd te staan. Prouks is die Breërivier-­streekuitdaagkampioen.

Die wenner van dié kragmeting, wat op 19 September in Ceres gespeel word, kwalifiseer outomaties vir ‘n plek in aanstaande jaar (2027) se grootuitdaagbekerkompetisie van die Boland-rugbyunie.

Vir die verloorder van bogenoemde promosiewedstryd is alles egter nie neusie verby nie. Hy kry ‘n tweede geleentheid om ‘n plek in die 2027-­Grootuitdaagkompetisie oop te speel.

Die verloorder moet dan die klub wat elfde (tweede laaste) op die Breë-Langeberg-grootuitdaag-punteleer eindig, in ‘n promosie-/relegasie-wedstryd pak.

Terug by Sesduim se suksesvolle veldtog in die Langebergstreekuitdaag – dié klub, wat verlede jaar (2025) sy plek in die Breë-Langeberg-grootuitdaagkompetisie ná ‘n reeks teleurstellende vertonings verloor het, het vanjaar alle teenstand in die Langebergstreekuitdaagafdeling uit die pad gevee.

Trouens, Sesduim het ál 22 ligawedstryde in dié kompetisie gewen en sy veldtog onoorwonne afgesluit. Daar­by is sy naasbestes, wat slegs twee keer aan die verloorkant was, ook as kampioen van die Langebergstreekuitdaag se B-spanne aangewys. Sedert hy verlede jaar na die streekuitdaagafdeling gerelegeer is, het Sesduim vernuwe. Stanley Burger is as die nuwe voorsitter verkies, terwyl Elvan Verhoog as hoofafrigter aangestel is.

Dié twee formidabele leiers met hul onderskeie mede-bestuurslede en hulp-afrigters het kragte saamgesnoer en Sesduim tot ‘n span ontwikkel waarmee rekening gehou moet word.

“Die spelers is toegewyd en hoogs gemotiveerd. Ons ondersteuners ­staan ook bankvas agter die span,” sê Burger met oortuiging.

“Ons hoofdoelwit vanjaar is natuurlik om vir aanstaande jaar se grootuitdaagkompetisie te kwalifiseer en ek glo met die hulp van ons Hemelse Vader is dit vir seker binne ons bereik.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article