Eushaan van der Merwe, vleuel van Villa, op die aanval met sy spanmaats wat nader staan om hom te ondersteun. Foto: Coleen Jansen

Multisure Villagers Worcester het Saterdag (21 Maart) op hul tuisveld Bolandpark in Worcester hul eerste nederlaag van die 2026-sei­soen in die Langeberg-afdeling van die Grootuitdaag-kompetisie in die Boland Rugbyunie gely toe Swellendam – ook onoorwonne – die wedstryd 23-17 gewen het nadat die tuisspan teen rustyd 10-6 voor was.

Villa het sommer vroeg-vroeg ‘n strafskop afge­dwing. Die heelagter, Jaydian Buys, se poging was egter net regs verby. Die besoekers, Swellies, het die telbord aan die rol gekry toe sy losskakel, Aphiwe Badella, met ‘n strafskop slaag. Buys het kort daarna vir Villa gedruk, maar hy kon nie sy eie drie verdoel nie. Swellies het hierna weer die voortou geneem nadat Badella met nog ‘n strafskop geslaag het. Villa se skrumskakel, Gurshwin Jouberts, is kort voor rustyd vir ‘n onvervyfde drie oor.

Ná rustyd het Swellies weer die neus voor gekry toe sy regtervleuel, Lestin September, vir ‘n onvervyfde drie oor is. Hulle het hul voorsprong verder gerek toe die skrumskakel, Bethal September, ‘n drie gedruk het, wat Bandella verdoel het (telling 18-10). Kort hierna is Buys, wat intusssen na vleuel verskuif is nadat die binnesenter, Wayne Plaatjies, beseer is en die losskakel, Elton Mfundisi, binnetoe moes skuif, oor vir ‘n drie. Hy het sy eie drie verdoel, wat die agterstand na 17-18 laat krimp het.

Swellies het die voortou geneem toe die slot John Muller vir ‘n onvervyfde drie oor is (telling 23-17). Toe volg ‘n senuweetergende paar minute met Villa wat alles in die stryd werp om oor die doellyn van hul teenstanders te kom. Hulle het verskeie aanslae gevoer met Swellies wat alles moes gee om hulle weg te hou. Die plaasvervanger-skrumskakel Thinus Saayman is ná verskeie aanslae uiteindelik onder die pale “oor”. In die proses is hy blatant verhinder, wat op ‘n geelkaart uitgeloop het. Die drie is egter nie toegeken nie, maar wel ‘n skrum, met Swellies wat moes ingooi.

Met die uurglas wat leegloop, het hulle die bal gewen en bloot uitgeskop om as die wenners uit die stryd te tree. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article