Die derde-ronde-klubrugbyligawedstryde van die Boland-rugbyunie is die afgelope Saterdag (21 Maart) gespeel.
In die streekuitdaagkompetisie in die Langebergstreek het Villagers Montagu, oftewel Sesduim, en Bonnievale United mekaar gepak.
Dié kragmeting het op die King Edward-sportterrein in Montagu plaasgevind waar dié twee spanne mekaar behoorlik die stryd aangesê het. Met die aanbreek van rustyd was hulle kop aan kop met die telling 10 elk.
Ná die blaaskans het die armdrukstryd voortgeduur.
Sesduim het egter, ondanks talle foute aan beide kante, vasgebyt om ná die eindfluitjie as oorwinnaar van die veld te stap.
Die eindtelling was 22-20 in sy guns.
Dit was Sesduim se derde agtereenvolgende oorwinning in dié kompetisie. – Norman Evertson





