Wat is Paasfees dan nou sonder kerrievis, Paasbolletjies (hot cross buns), kerk en . . . die Paasbasaar en Nekkies- musiekfees?
Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het die afgelope Dinsdag (23 Maart) sy vordering met die beplanning van dié groot musiekfees in Worcester gedeel.
Met meer as 37 000 besoekers verlede jaar, hou dié musiekfees aan met groei en het Worcester stewig op die jaarlikse musiek- en kultuurkalender geplaas.
Raymond Esau, direkteur van strategiese ondersteuningsdienste by die BVM, het gesê dat die wortel van dié fees geanker is in die gemeenskap en sy kultuur. Hy het verduidelik dat die logo – met ‘n skilpad en ‘n berg – daarop dui. Die suurpootskilpad, ‘n bedreigde spesie, kom in hierdie omgewing voor en Worcester se berge is kenmerkend van die gebied. “Selfs die taal wat ons gebruik, is ‘n verwysing na kultuur.”
“Kô lat ôs dans” is die tema vir Donderdag 2 April, “Kô lat ôs juig” is die tema op Goeie Vrydag (3 April) met geestelike musiek, “Kô lat ôs jive” volg Saterdag 4 April met kontemporêre ritmes vir die jonges, in “Kô lat ôs jazz” op Paassondag speel Ghoema en Kaapse jazz-musiek, en op die laaste dag (Maandag 6 April) is dit “Kô lat ôs unite”, ‘n dag om saam met die familie en gemeenskap deur te bring.
Groot name verskyn weer eens op die verhoog, soos die internasionale ster Lady Estelle Hyman van Amerika wat ‘n bekende gospelsangeres is. Sy is een van talle name wat besoekers gaan vermaak, met ‘n groot getal plaaslike musikante wat ook optree. Die produksies is in die hande van ervare konsertorganiseerders met internasionale ervaring.
“Hierdie is ‘n fees vir gesinne en fami- lies en ons het ook voorsiening gemaak vir die kinders met speelareas en kinderoppassers. Daar is ook ‘n karnavalpark met bekostigbare ritte.”
Vanjaar word ‘n gholfdag bygevoeg waarvan die opbrengste geskenk sal word aan die geskiedkundige Riverview-gholfklub in Worcester.
‘n Verteenwoordiger van die geestelike leiers was ook Dinsdag teenwoordig. Die Nekkies-fees het sy ontstaan juis uit Worcester se eeu-oue Paasbasaar waar Christene en Moslems saam basaar hou om geld vir hul gemeentes in te samel. Mense het van wyd en syd daarnatoe gekom, maar die jonges het na iets gesoek om vroeër in die naweek te doen. ‘n Musiekfees was die ideale oplossing. Die kerke het die munisipaliteit bedank vir die reëlings om beide die musiekfees en die basaar glad te laat verloop.




