Plaaslike toutrekspanne tops tydens junior toutrekkampioenskap

Bloedsweet en vasberadenheid het die 560kg seunspan van HTS Drostdy die oorwinning besorg tydens die Junior Toutrekkampioenskap. Foto’s: Leezelle Cronjé

Twee plaaslike skole het as wenners weggestap tydens die afgelope naweek se SA Junior Toutrekkampioenskap wat by Hoërskool Robertson plaasgevind het.

Die Hoër Tegniese Skool Drostdy (HTS) se 560 kg seunspan het met goud weggestap – die eerste keer sedert hulle dié kompetisie in 2018 in die gewigsafdeling gewen het.

HTS drostdy
Inskop, vasskop en trek vir al wat jy werd is! Meer as 1600 toutrekkers het die afgelope naweek aan die Junior Toutrekkampioenskap, wat by Hoërskool Robertson aangebied is, deelgeneem. Bo vier die 560-kg-seunspan van die Hoër Tegniese Skool Drostdy hul oorwinning. Foto: Jana Malherbe

Hoërskool Robertson se toutrekkers het hard vasgeskop op eie bodem en hul 520 kg gemengde toutrekspan het ook ‘n sege geproe en met ‘n goue medalje weggestap.

Hoërskool Swellendam se 480 kg-dogtersspan het ook ‘n goue medalje verwerf.

Maklik is dit nie. Die 520 kg gemengde toutrekspan van Hoërskool Robertson se deursettingsvermoë het die knoop deurgehak en aan hulle ‘n goue medalje besorg.

Die kompetisie was taai met 504 spanne en meer as 1 635 atlete wat meegeding het.

Die wenspanne gaan Suid-Afrika van 16 tot 19 September by die Wêreldkampioenskap, wat in Mosselbaai aangebied word, verteenwoordig.

HTS Drostdy het taai kompetisie in hul finale ronde gehad toe hulle teen die span van die Hoër Landbouskool Oakdale te staan gekom het. Hulle het die wedstryd in twee trekke gewen. “Die kampioenskap het vir die span waardevolle ervaring gebied – hulle het nie net hul tegniek en krag verbeter nie, maar ook geleer om as ‘n eenheid saam te werk onder druk,” het hul hoof-afrigter, Morné Visser gesê.

“Om ‘n finaal in twee trekke te beklink teen topkompetisie is nie toevallig nie, dit is die resultaat van maande se gestruktureerde voorbereiding, dissipline en absolute toewyding van elke spanlid. Ek is ongelooflik trots op hierdie groep seuns en die standaard wat hulle vir hulself gestel het. Hulle het as ‘n span saamgestaan en met selfvertroue en fokus op die dag presteer, wat uiteindelik die verskil gemaak het,” het Visser gesê.

By die Wêreldkampioenskap sal die spanne teen 16 lande meeding met een duidelike doelwit: om nie net ‘n goue medalje te verower nie, maar om die wêreldkampioen te wees.

Visser sê sy span se oefenprogram sluit drie gimnasiumsessies per week in, vier toutrek-oefensessies, asook deelname aan die Senior liga-kompetisies op Saterdae. Die gestruktureerde voorbereiding is daarop gemik om hul krag, tegniek en spanwerk verder te ontwikkel.

Die 520 kg gemengde toutrekspan van Hoërskool Robertson is trots op die goue medalje wat baie middae se toewyding en harde oefening aan hulle besorg het tydens die afgelope naweek se Junior Toutrekkampi­oenskap in Robertson. Foto: Louise Blom

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article