Die skrumskakel Gurshwin (Mahaal) Africa op die aanval met sy spanmaat Cubitt Michaels byderhand om te ondersteun, terwyl twee Blue Birds-verdedigers die beweging probeer stuit. Foto: Dafiq Williams

Villagers net-net bo in naelbyter teen Bonnievale se Blue Birds

Die skrumskakel Gurshwin (Mahaal) Africa op die aanval met sy spanmaat Cubitt Michaels byderhand om te ondersteun, terwyl twee Blue Birds-verdedigers die beweging probeer stuit. Foto: Dafiq Williams

Multisure Villagers (Villa) het sommer van meet af aan sy stempel op die voorlaaste wedstryd op Bolandpark teen Blue Birds van Bonnievale in ‘n Grootuitdaagwedstryd in die Langeberg-afdeling van die Boland Rugby-unie probeer afdwing.

Die besoekers het egter ander planne gehad en self met ‘n verbete aanslag die tuisspan gedwing om vir die volle duur van die wedstryd gefokus te bly.

Villa het wel die eerste punte op die telbord gekry toe die skrumskakel Theunis Saayman oorgaan nadat sy woelwaterflank Mario Marinus ná omgekeerde balbesit ‘n ver ent vorder en toe hy voorgekeer word, was Saayman by om af te rond. Die losskakel Elton Mfundisi slaag met die doelskop vir ‘n 7-0-voorsprong.

Blue Birds slaan egter hard terug toe die regtervleuel Johanam van der Merwe oorgaan en heelagter Rodwin Kortje verdoel om sake gelykop te maak. Nou behoorlik stert in die lug, slaan Blue Birds weer toe toe agsteman en kaptein Jason Lotz oorgaan en Kortje verdoel om die besoekers met 14-7 te laat voorloop.

In die hoekie

Villa kom self met ‘n verwoede aanslag en die binnesenter Josh September gaan oor en met Mfundisi se geslaagde doelskop, trek die spanne met 14 elk gelyk teen rustyd.

Kort ná rustyd neem Villa weer die voortou toe sy regtervleuel Juan (Cooper) Williams in die hoekie oorgaan vir ‘n onvervyfde drie. Blue Birds antwoord egter self met ‘n sewepunter toe Kortje oorgaan vir sy drie en boonop self verdoel om weer met 21-19 die voortou te neem.

Die besoekers kry hierna hul bonuspunt-drie toe Van der Merwe oorgaan en Kortje verdoel om die voorsprong na 28-19 te rek. Die voorsprong rek verder toe buitesenter Angelico Herder oorgaan vir ‘n onvervyfde drie. Villa se koelkop-plaasvervanger-skrumskakel Gurshwin (Mahaal) Africa gaan hierna oor vir sy drie en met Mfundisi wat verdoel, krimp die agterstand na 26-33.

Die besoekers kry egter weer punte toe die slot Trubin Jacobs oorgaan vir ‘n onvervyfde drie om die telling nou 38-26 in die besoekers se guns te swaai. Die plaasvervanger-stut Anele Zingitwa gaan oor vir sy drie en met Mfundisi wat verdoel, krimp die agterstand na 33-38.

Oorgeklits

Met die uurglas wat nou byna leegloop, gaan Villa se slot Bernito McPherson oor om die telling nou 38 elk te maak. Met die doelskop wat wag, klits Africa onder groot druk ewe koelkop die bal deur die mikke vir die tuisspan se 40-38 oorwinning.

In die hoofvoorwedstryd klop Villa se naasbestes Blue Birds met 66-21 en verseker daarmee dat hulle as streekwenners gekroon word terwyl die derdespan van Villa met 45-21 bo was in die eerste wedstryd van die dag en daarmee ook ‘n tree nader aan liga-glorie gee.

Eerskomende Saterdag (29 Augustus) kom Villa se amptelike liga-verpligtinge vir die 2026-seisoen ten einde wanneer hulle Alberts op Bolandpark die stryd gaan aansê terwyl Bonnievale Blue Birds op sy tuisveld teen Rangers Robertson te staan kom.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article